Lugwag-gedragskode

"*" indicates required fields

Lugwag-gedragskode

AfriForum Lugwag

Die groepering van vrywilligers wat hierdie gedragskode onderteken (hierna die “Lugwag” genoem) is NIE ’n regspersoon nie en funksioneer binne die riglyne soos uiteengesit in die gedragskode wat op alle Lugwag-lede van toepassing is.

Gedragskode

Die standaardwerksprosedures behoort saam met hierdie gedragskode gevolg te word vir die gladde verloop en doeltreffende hantering van inisiatiewe wat deur lede van die Lugwag onderneem word.

  1. Verantwoordelikhede
    1. Lugwag-lede sal op versoek, en wanneer hulle, hul vliegtuie en ander toerusting geredelik beskikbaar is, welke beskikbaarheidstand sover moontlik gehandhaaf moet word, luginisiatiewe onderneem in belang van gemeenskapsveiligheid.
    2. Indien Lugwag-lede vlugte onderneem, hetsy vir rekreasiedoeleindes of andersins, onderneem sodanige lede om enige verdagte of ander relevante inligting deur te gee op die voorgeskrewe wyse.
    3. Indien nodig, sal die Lugwag-lede bereid wees om te getuig en om verklarings af te lê rondom enige gerapporteerde waarneming ten einde die vervolging van enige persoon wat ’n misdaad gepleeg het te vergemaklik.
    4. Die Lugwag-lede moet te alle tye binne die raamwerk van die wetgewing van die Republiek van Suid-Afrika optree.
    5. Indien Lugwag-lede luginisiatiewe onderneem in belang van gemeenskapsveiligheid, sal hulle, sovêr moontlik, ’n aanboordbemanning van twee lugwaglede wees.
    6. Die Lugwag-lede se verantwoordelikhede bestaan hoofsaaklik uit lugwaarneming, lugsoektogte, lugagtervolging en die vervoer van mense of goedere.
    7. Die ondergetekende bevestig en erken hiermee dat hy/sy die ouderdom van 18 (agtien) bereik het, en erken voorts dat hy/sy bewus is daarvan dat geen persoon onder die ouderdom van 18 (agtien) lid van die Lugwag mag wees nie, en voorts dat dit ontoelaatbaar is vir enige persoon onder 18 (agtien) om aan enige luginisiatief in belang van gemeenskapsveiligheid deel te neem.

  2. Mandaat
    Lugwag-lede mag nie die reg in eie hande neem en onnodig op ’n wyse te handel wat vir hulle gevaar inhou nie. Die Lugwag se hoofdoel is om as oë in die lug te dien vir die grondspanne wat bestaan uit, maar nie beperk is tot, die AfriForum-buurtwag, SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) en ander veiligheidsrolspelers, wat verder sal optree waar nodig.

  3. Identifikasie
    Lugwag-lede moet hul persoonlike identiteitsdokument en ander dergelike relevante dokumente te alle tye byderhand hê tydens inisiatiewe

  4. Gedrag
    1. Geen rassisme, seksisme of enige ander vorm van diskriminasie word geduld nie.
    2. Die gebruik van enige vorm van alkohol en/of enige ander verdowingsmiddel voor en/of tydens luginisiatiewe word ten strengste verbied.
    3. Indien ’n Lugwag-lid hom of haar onredelik aan ’n kriminele oortreding skuldig maak gedurende luginisiatiewe waar hy/sy pertinent reageer op versoek om in belang van gemeenskapsveiligheid ’n vlug te onderneem, kan die lid versoek word om redes vir die optrede te voorsien. Indien die redes en ondersoek neerkom op roekelose of grof nalatige gedrag, kan die lid se lidmaatskap opgeskort word.
    4. Lugwag-lede mag geen sensitiewe inligting uitgee wat in die uitvoering van hulle inisiatiewe bekom is nie, behalwe op versoek van AfriForum en/of die SAPD.
    5. Geen Lugwag-lid mag sy of haar lidmaatskap van die Lugwag vir onredelike eie gewin gebruik nie.
    6. Lugwag-lede moet te alle tye optree ter bevordering van die Lugwag se doelwitte en beeld.
    7. Alle toerusting wat aangewend word moet met verantwoordelikheid gebruik word en nie tot nadeel van ander onskuldige persone nie.
    8. Elke Lugwag-lid betrokke by ’n luginisiatief moet te alle tye ten minste een vorm van kommunikasie by hom/haar hê ten einde met die beheerkamer of grondspanne te kommunikeer.
    9. Indien enige gevaar vir die Lugwag-lid gedurende ’n gemeenskapsveiligheidinisiatief ontstaan, moet die lid onmiddellik uit die area van gevaar beweeg, en/of alle moontlike stappe doen om die gevaar, van welke aard ook al, te ontwyk.
    10. GEEN Lugwag-lid mag verklarings of inligting aan die media verskaf nie. Alle medianavrae moet na AfriForum se hoofkantoor verwys word.
    11. Die inhoud van hierdie gedragskode is onderhewig daaraan dat Lugwag-lede te alle tye die redelike opdragte van die SAPD gedurende ’n inisiatief sal gehoorsaam.

  5. Samewerking met die SAPD
    1. Ingevolge art. 47 van die Strafproseswet (No. 51 van 1977) kan enige manlike landsburger tussen 16 en 60 jaar deur die SAPD opgekommandeer word om van hulp te wees in gevalle waar dit nodig geag word, met betrekking tot inhegtenisneming en aanhoudings. Indien die SAPD dus redelikerwys om hulp vra, moet dit sover moontlik verleen word.
    2. Die uitruil van inligting moet, sover moontlik, deur die strukture en kanale wat daarvoor aangewys is deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling, plaasvind.

Vrywaring

Die AfriForum Lugwag (hierna die “Lugwag” genoem) is NIE ’n regspersoon nie en funksioneer binne die riglyne soos uiteengesit in die gedragskode soos op alle Lugwag-lede van toepassing

Die ondertekende, as vrywilliger, ondersteun en onderskryf hierdie gedragskode en erken dat betrokkenheid by die Lugwag ’n vrywillige assosiasie is.

Elke individu tree vrywillig op in sy of haar persoonlike hoedanigheid en aanvaar aanspreeklikheid in daardie hoedanigheid.

Die ondertekende vrywaar hiermee AfriForum, sy direksie, werknemers en vrywilligers en die spesifieke AfriForum-tak, -takbestuur, -buurtwag of enige persoon wat in sy of haar hoedanigheid optree ter organisering of koördinering van enige aktiwiteit van AfriForum waaraan die ondergetekende deelneem, ten opsigte van, maar nie beperk tot, enige eis, skade, verlies, dood of besering wat sodanige persoon opdoen vanweë sy/haar deelname aan enige aktiwiteit van die Lugwag.

Enige strafregtelike, siviele of ander aksies teen die ondergetekende wat voortspruit uit enige aktiwiteit van die Lugwag waaraan die ondergetekende deelneem, moet ingestel word teen die ondergetekende en NIE teen AfriForum, sy direksie, werknemers, vrywilligers of die spesifieke AfriForum-tak, -takbestuur, -buurtwag of enige persoon wat in sy of haar hoedanigheid optree ter organisering of koördinering van enige aktiwiteit van AfriForum waaraan die ondergetekende deelneem nie, en die ondergetekende vrywaar AfriForum, sy direksie, werknemers, vrywilligers en die spesifieke AfriForum-tak, -takbestuur, -buurtwag of enige persoon wat in sy of haar hoedanigheid optree ter organisering of koördinering van enige aktiwiteit van AfriForum waaraan die ondergetekende deelneem as sodanig.

Sou daar wel regsaksie teen AfriForum, sy direksie, werknemers en vrywilligers of die spesifieke AfriForum-tak, -takbestuur, -buurtwag of enige persoon wat in sy of haar hoedanigheid optree ter organisering of koördinering van enige aktiwiteit van AfriForum waaraan die ondergetekende deelneem ingestel word en in die geval waar enige van die bogenoemde regtens verplig is om skadevergoeding te betaal weens die onregmatige optrede van die ondergetekende of waar die ondergetekende in stryd met die gedragskode wat op lede van die Lugwag van toepassing is opgetree het, moet die ondergetekende op versoek sodanige skade vergoed, en by versuim kan AfriForum teen die ondergetekende optree vir die verhaling daarvan.

Radionetwerk-gedragskode

Hierdie gedragskode is bindend vir alle gebruikers van AfriForum se radionetwerke. Oortreding hiervan sal lei tot dissiplinêre optrede deur AfriForum teen die oortreder.

Ten einde die radionetwerke effektief te hou, is daar reëls en bepalings wat nagekom moet word. Die radionetwerk staan sentraal tot die betrokke lid en gebruiker van die netwerk en die gemeenskap se veiligheid. Die radionetwerk verdien dus dieselfde agting as ’n vuurwapen – die gebruiker se optrede beïnvloed ander se veiligheid. Die ondergetekende onderneem dus hiermee om die radio met respek en verantwoordelikheid te hanteer.

Die ondergetekende bevestig en erken dat, indien die tersaaklike radio en/of enige ander toerusting en/of bate wat aan AfriForum behoort, aan die ondergetekende oorhandig word, die ondergetekende verantwoordelik is vir sodanige toerusting en/of bate, en die ondergetekende onderneem om die toerusting en/of bate aan die einde van die gebruikstydperk aan AfriForum terug te besorg in dieselfde toestand as waarin dit ontvang is, redelike slytasie uitgesluit.

Die ondergetekende bevestig, onderneem en erken dat, indien die toerusting/bate enigsins beskadig word of verlore raak nadat die ondergetekende dit in besit geneem het, dit die verantwoordelikheid van die ondergetekende is om die toerusting/bate te vervang en/of te herstel. AfriForum behou die reg voor om volgens sy eie diskresie te bepaal of die toerusting/bate herstel of vervang moet word. Die ondergetekende sal verantwoordelik wees vir alle koste hieraan verbonde.

Moets Moenies
  1. Die radio moet te alle tye aangeskakel wees.
  2. Die skakelaar moet geensins onnodig of per abuis gedruk word nie.
  3. Die lid moet luister of die kanaal beskikbaar is voordat daar uitgesaai word.
  4. Die roepskakelaar behoorlik gedruk word om te verseker dat behoorlike versending plaasvind.
  5. Die roepsein waarheen versend word, moet duidelik deurgegee word.
  6. Die roepsein waarvandaan versend word, moet duidelik deurgegee word.
  7. Veiligheid as onderwerp moet te alle tye voorkeur geniet by uitsending.
  8. Versending moet in ’n kort, bondige en duidelike vorm plaasvind – slegs relevante inligting.
  9. Daar moet seker gemaak word dat die boodskap korrek ontvang en verstaan is.
  10. In ’n noodgeval moet daar seker gemaak word dat die regte adres weergegee het.
  1. Moenie vals alarms of gerugte uitsaai nie.
  2. Moenie onbedagsame en/of gekruide taal gebruik en/of ongevraagde aanmerkings maak nie.
  3. Geen musiek of gekskeer nie.
  4. Moenie sensitiewe of sensasionele inligting uitsaai nie.
  5. Moenie langdradige stories vertel nie; die boodskap moet kort en kragtig gehou word.
  6. Moenie die radio afskakel nie tensy omstandighede dit noodsaak.
  7. Moenie die radio aan iemand gee wat nie opgelei en deel van die netwerk is nie.
  8. Moenie die radio laat lê waar dit gesteel kan word nie.
  9. Moenie die netwerk se frekwensies aan enigiemand bekend maak nie.

Hiermee verklaar ek: (volle name en van)

Naam en van*

dat ek vertroud is met die inhoud van die Lugwag-gedragskode,

die Radio-gedragskode en die Vrywaringsvorm;

dat ek afskrifte van die Lugwag-gedragskode, die Radio-gedragskode en die Vrywaringsvorm ontvang het; en

dat ek my verbind tot die Lugwag-gedragskode, die Radio-gedragskode en die Vrywaringsvorm.

Getuie
Naam en van*
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Soortgelyke plasings