Misdaad

Links van die Knal: Hoe veiligheidsbewus is jy?

Deur Johan Nortjé

In verslaggewing oor gewelddadige aanranding of ander misdade waar daar slagoffers was, verskyn sekere temas keer op keer. Daar word gewoonlik genoem dat die slagoffers deur die aanvallers oorrompel, oorval, of onkant betrap is. Dit is veral opmerklik in verslagdoening oor plaasaanvalle. Om te sê dat slagoffers deur ’n plaasaanval of ander misdaad verras is, is ’n inherent vreemde stelling. Dit skep half die indruk dat slagoffers vooraf kennis van die misdaad moes gedra het en dat die onus op hulle gerus het om die misdaad te verhoed.

Ons bly in ’n samelewing wat vereis dat jy self verantwoordelikheid moet neem vir jou veiligheid. Veiligheidspesialiste sê herhaaldelik mense moet meer bewus wees van hulle omgewing sodat hulle nie deur aanvalle verras word nie. Hoewel dit ’n goeie wenk is, is wenke oor paraatheid dikwels net van toepassing op spesifieke situasies. 

Die Verenigde State se marinierskorps (“Marine Corps”) moes in 2006 tydens die opstande in Irak op die harde manier leer om waaksaam en altyd bewus te wees van hul omstandighede. Hulle rol het mettertyd omgeskakel van dié van ’n aanvallende mag na ’n meer verdedigende mag met patrolleringsfunksies. Omdat die Amerikaners tydens hul patrollies nie tussen vriend en vyand kon onderskei nie, het hulle onder leiding van genl. James Mattis, ’n voormalige hoof van hulle marinierskorps, ’n program geskep om profiele saam te stel. Die doel van die program was om gevegsprofileerders op te lei wat bedreigings kon identifiseer en interpreteer sodat hulle proaktief kon optree. Met dié program as basis het Patrick van Horne en Jason A. Riley hulle “Left of Bang”-model ontwikkel. Ons sal voortaan na “Left of Bang” verwys as “Links van die Knal”.

Links van die Knal kan as volg omskryf word: Verbeel jou daar is ’n tydlyn met ’n begin, ’n middel en ’n einde. Die “Knal” of aanval wat jy wil vermy, is in die middel van die tydlyn. Dit verteenwoordig byvoorbeeld ’n motorkaping, ontvoering of plaasaanval. Optrede of gebeure links van die Knal word beskou as proaktief omdat dit vóór die aanval plaasvind in ’n poging om die aanval te verhoed, terwyl gebeure regs van die Knal ná die aanval plaasvind en dus reaktief is. Die doel met Van Horne en Riley se Links van die Knal-model is om te sorg dat jy altyd links van die Knal is, want as jy regs daarvan is, het jy eintlik nie meer beheer oor die situasie nie.

Die Links van die Knal-model is grotendeels gebaseer op menslike gedrag en die interpretasie van menslike gedrag in ’n bepaalde omgewing of konteks. Die basislyn of norm waaraan gedrag gemeet word, is mense se normale gedrag of optrede. Die waargenome gedrag word dan met die norm vergelyk om te bepaal of daar enige afwykings en dus moontlike bedreigings is. Veronderstel byvoorbeeld ’n boer verkoop gewoonlik net op weeksdae vee, maar skielik daag iemand sonder ’n afspraak oor ’n naweek op om vee te koop, dan word dié gedrag as ’n afwyking van die norm en ’n moontlike bedreiging beskou. Eenvoudig gestel: Gebeure wat in ’n bepaalde omgewing, situasie of konteks abnormaal is, is ’n afwyking van die norm en kan dui op ’n moontlike bedreiging.

Die Links van die Knal-model maak staat op mense se waarnemingsvermoë en hul vermoë om menslike gedrag te interpreteer en die omgewing te “lees”. Iemand wat byvoorbeeld ’n versteekte vuurwapen dra, mag dalk onbewustelik aan daardie deel van sy liggaam raak om seker te maak die vuurwapen is nog daar. Mense tree byvoorbeeld ook met meer selfvertoue op in ’n bekende omgewing en beweeg stadiger in onbekende areas, daarom moet huiseienaars bedag wees op persone wat skynbaar doelloos in ’n woonbuurt rondloop.

AfriForum se buurtwagte tree voortdurend Links van die Knal op met veiligheidsopleiding en deur voertuigpatrollies en gebeurlikheidsplanne voor optogte in werking te stel. Wat die Links van die Knal-model uniek maak, is dat dit geen veiligheidskameras, wapens of alarmstelsels vereis nie. Dit vereis ’n verandering in jou manier van dink oor jou veiligheid, jou oplettendheid en bewustheid van jou omgewing en mense se gedrag, en jou doelbewuste besluit om proaktief verantwoordelikheid te neem vir jou eie veiligheid en dié van jou gemeenskap.

Soortgelyke plasings