|

Lichtenburg-tak hou aan om slaggate op te vul

AfriForum se Lichtenburg-tak het tussen 31 Julie en 10 Augustus 87 slaggate in Bantiesstraat, Charlweg en ’n gedeelte van Breëstraat opgevul. Meer as 142 sakkies teer is gebruik om die slaggate op te vul asook ss60 bitumenemulsie om dit te verseël.

Slaggate veroorsaak al hoe meer veiligheidsrisiko’s op Suid-Afrikaanse paaie en moet dringend aandag kry. Indien munisipaliteite nie ’n daadwerklike plan gaan maak om die kwessie te takel nie sal grondpaaie Suid-Afrikaners se voorland wees.

“Dit is van uiterste belang dat inwoners van Lichtenburg by ons tak aansluit. Lidmaatskap speel ’n integrale rol in die sukses van ons projek om slaggate te herstel. Hoe meer lede ons het, hoe meer kan ons doen, fisiek en finansieel. Hierdie projek gaan nie net oor die opvul van slaggate nie, maar ook oor die voortgesette verbetering van ons die omgewing waarin ons leef,” sê Pine Pienaar, leier van die Lichtenburg-tak se slaggat-herstelprojek.

“Die herstel van paaie en die oplossing van probleme met infrastruktuur soos slaggate is van kardinale belang vir die gemeenskap. Dit gaan nie net oor die verbetering van die reiservaring nie, maar ook oor die bevordering van verkeersveiligheid en die beskerming van voertuie. AfriForum se Lichtenburg-tak bedank die Noordwes Koöperasie (NWK) Lichtenburg vir die kompaksieroller en betonsaag wat hulle vir die projek verskaf het, asook ondernemings en inwoners vir die skenking van ss60 bitumenemulsie en 142 sakke teer. Verder bedank ons die eienaars van twee ondernemings vir die vier oorpakke en vier paar veiligheidskoene wat hulle geskenk het en Print-A-Shirt wat AfriForum se logo op die oorpakke gedruk het,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Lichtenburg-tak vra ondernemings en individue om teer te skenk indien ’n spesifieke straat se slaggate opgevul moet word. Inwoners word ook aangemoedig om by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit. Kontak vir Steyn Kearny by 082 803 3628 vir ’n aansluitingsvorm of klik hier om aanlyn aan te sluit.

Soortgelyke plasings