|

Lichtenburg-tak herstel 284 slaggate in September

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het in September 284 slaggate op dié dorp se paaie herstel. Altesaam 290 sakkies teer en 3 ton warm teer is vir die herstelwerk gebruik, asook ’n verdere 300 liter SS60 bitumen om die paaie te versterk.

“Ons is so trots op die gemeenskap wat inspring met donasies om ons te help om Lichtenburg se paaie volhoubaar te restoureer. AfriForum se Lichtenburg-tak sal hierdie projek voortsit en sorg dat Lichtenburg se paaie herstel word om ’n veilige reis vir inwoners te verseker,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Hierdie projek maak ’n reuse-verskil aan die toestand van ons paaie. Ons wil graag alle donateurs, plaaslike ondernemings en gemeenskapslede bedank wat slaggatprojekte moontlik maak. Dit is weereens ’n bewys dat gemeenskapsamewerking ’n daarwerklike verskil maak,” sê Pine Pienaar, die projekleier.

AfriForum moedig inwoners aan om by sy Lichtenburg-tak aan te sluit deur www.wordlid.co.za te besoek. Vir verdere navrae oor hierdie projek of om betrokke te raak by toekomstige inisiatiewe, kontak Pienaar by 082 371 5312 of Jan Buscop by 082 200 8075 van die Lichtenburg-teerprojek.

Soortgelyke plasings