|

Lichtenburg-buurtwag help met arrestasie van man wat glo sy meisie aanrand

Die AfriForum-buurtwag in Lichtenburg het ’n beduidende rol gespeel in die arrestasie van ’n man wat na bewering sy meisie aangerand en toe met haar voertuig gevlug het. Na verneem word, het hy voetgangers met dié voertuig raakgery en teen ander voertuie gebots voordat hy dit aan haar terugbesorg het.

’n Vrou het Saterdag 25 Mei om 20:00 die buurtwag in kennis gestel dat haar kêrel haar arm gebreek het en daarna met haar Mazda CX-3 gevlug het. AfriForum se buurtwaglede het onmiddellik na haar huis gehaas.

Met hul aankoms was die voertuig reeds terug by die huis, maar met sigbare skade aan die voorkant. Dit het aan die lig gekom dat die verdagte na bewering twee voetgangers raakgery het, waarvan een ernstig beseer is, en in vier ander voertuie vasgery het voordat hy weggejaag het.

Die AfriForum-buurtwag het die hele Saterdagaand na die verdagte gesoek. Die volgende oggend (Sondag 26 Mei) is inligting ontvang dat die verdagte by sy broer in Blydeville skuil en beplan om na Welkom te vlug.

AfriForum het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dadelik gekontak en die nodige inligting oor die verdagte se ligging deurgegee. Die SAPD het vinnig op hierdie inligting gereageer en die verdagte in hegtenis geneem.

“Ons as ’n gemeenskap speel ’n belangrike rol in almal se veiligheid en hierdie voorval toon die krag van kollektiewe pogings aan. Die vinnige optrede en samewerking tussen die buurtwag en die polisie is bewys van hoe doeltreffend ons kan wees wanneer ons saamwerk. Ons sal voortgaan om as ’n verenigde front op te tree om die veiligheid en sekuriteit van ons gemeenskap te verseker,” sê David Fourie, AfriForum se Lichtenburg-buurtwagleier.

“Ons prioriteit is die veiligheid van die gemeenskap en ons sal aanhou werk om misdaad te beveg en ons gemeenskap te beskerm. Ons het gesien hoe vinnige en gekoördineerde optrede ’n groot verskil kan maak in noodsituasies. Deur saam te werk met die polisie en die gemeenskap, kan ons ’n veilige en beskermde omgewing vir almal verseker,” sê Carel Pauly, operasionele leier van AfriForum se Lichtenburg-buurtwag.

Enigiemand wat graag by AfriForum se Lichtenburg-tak en -buurtwag betrokke wil raak, kan Fourie by 079 456 5426 of Pauly by 071 339 6180 kontak.

Soortgelyke plasings