Lesufi-uitsprake oor Afrikaans is kwetsend en skend Afrikaanssprekendes se waardigheid – AfriForum
Die burgerregte-organisasie AfriForum het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, daarvan beskuldig dat sy uitsprake rakende Afrikaans kwetsend is en op ’n ernstige aantasting van Afrikaanssprekendes se waardigheid neerkom. Dít volg nadat Lesufi onder meer gesê het dat dit “sy verstand te bowe gaan” dat die stryd vir Afrikaanse onderrig nog voortduur en dat die aandrang daarvoor Afrikaanse kinders skade berokken.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, word Lesufi se minagtende houding rakende Afrikaans en Afrikaanssprekendes ten toon gestel deur sy standpunt dat Afrikaans nie die moeite werd is om voor te baklei nie en dat die taal se sprekers gekelder sal word as hulle op hulle moedertaal aandring.
“Lesufi gee voor dat hy ’n kampvegter teen rassisme is, maar huiwer nie om in dieselfde asem kwetsende uitsprake teenoor die Afrikaanssprekende deel van die bevolking te uiter nie.”
Kriel het daarop gewys dat indien die ANC enigsins daarin belangstel om eenheid in verskeidenheid en wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te help vestig, dié party sal moet herbesin oor die wenslikheid daarvan om Lesufi in enige pos aan te stel waarin hy verdere polarisasie kan veroorsaak.
“Lesufi hou ’n ernstige bedreiging in vir goeie menseverhoudinge in die land,” sê Kriel.
Volgens Kriel sal AfriForum voortgaan om op ’n basis van wedersydse erkenning en respek vir Afrikaans en meertaligheid te veg deur Lesufi se polariserende agenda op elke moontlike wyse teen te staan.