|

Lesufi se voorgestelde skoleregulasies kom neer op diktatorskap

AfriForum, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit meen die voorgestelde gewysigde skoleregulasies vir Gautengse skole in 2019 is teenstrydig met die Grondwet en dit kan skoolbeheerliggame se magte om skole suksesvol te bestuur inperk.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het dié voorgestelde wysigings op 30 Julie in die Staatskoerant gepubliseer. Die voorstelle sluit onder meer in:

  • Dat skole nie leerlinge mag weier op grond van ras, geslag, taal, kultuur of godsdiens nie;
  • Dat die hoof van die onderwysdepartement ’n skool se toelatingsbeleid moet goedkeur en die finale sê het oor wie tot ’n skool toegelaat word;
  • Dat toelatingstoetse geskrap moet word, tensy die hoof van die onderwysdepartement geskrewe toestemming gee; en
  • Dat toelating van leerlinge tot gr. R deur die onderwysdepartement gereguleer moet word.

Die organisasies het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion hul kommer oor dié voorgestelde regulasies gedeel.

Hulle meen dat indien die skoleregulasies verander word, alle aansoeke, plasings en bestuur sentraal deur die aanlynstelsel en departementele amptenare beheer sal word. Dit sal neerkom op ’n diktatorskap oor skole, wat teenstrydig is met die demokratiese bestel wat die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet ten doel het.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, sê 80% van Suid-Afrikaanse skole is reeds disfunksioneel en die verandering van die skoleregulasies sal tot verdere disfunksionaliteit lei aangesien die staat nie bevoeg is om skole suksesvol te bestuur nie.

“AfriForum het om hierdie rede vandag ʼn brief aan die minister van onderwys, Angie Motshekga, gestuur waarin ons eis dat Lesufi ontslaan moet word. Ons versoek dat ʼn nuwe LUR vir onderwys aangestel moet word wat in die belang van gehalte-onderwys en leerderwelstand sal optree en nie vir eie politieke gewin nie,” sê Bloem.

Volgens Melanie Buys, hoof van stelsels by die SOS, is dit ironies dat Lesufi meer mag oor openbare skole wil hê, terwyl regeringsubsidies en gesubsidieerde poste by skole afneem.

“Uitnemende skole steun swaar op geld en hulpbronne vanaf die gemeenskap, aangesien hulle al minder ondersteuning vanaf die regering kry. Skole sukkel ook toenemend om geld van die departement terug te kry wanneer hulle ouers kwytskeld van skoolgeld. Dit maak eerder sin dat persone en groepe wat openbare skole befonds, meer insae het oor die bestuur van ’n skool as die regering,” sê Buys.

Volgens die vakbond Solidariteit is die regulasies polities opportunisties en ’n vorm  van magsmisbruik.

“Die voorgestelde regulasies sluit diegene wat ten nouste betrokke is by die bestuur en sukses van openbare skole summier uit, en stel voordat hul plek word deur die staat ingeneem,” sê Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof van regsdienste.

Die organisasies moedig die publiek ten sterkste aan om aan die openbare deelnameproses deel te neem en voor 29 Augustus 2018 kommentaar op die onderskeie organisasies se webtuistes te lewer teen die kaping van skole. Die webtuistes is:

Volgens Human is die publiek se posisie in dié saak sterker as byvoorbeeld die openbare deelnameproses oor onteiening sonder vergoeding, omdat dié deelnameproses verpligtend is en die inligting wat tydens die proses ingewin word vir litigasie doeleindes in die toekoms aangewend kan word.

Hy het ook daarop gewys dat die Tshwane-metro in 2013 sy planne opsy gesit het om die naam van Pretoria te verander nadat ‘n groot gedeelte van die publiek hul stem daarteen dik gemaak het. “Dit is uiters waardevol en nodig vir ouers om weerstand te bied.”

Verskeie rolspelers in die onderwys het ook daarop gewys dat die regulasies skoolgemeenskappe magteloos sal laat ten opsigte van hul toelatingsbeleid.

Basil Manuel, hoof van die onderwysvakbond Naptosa, het luidens mediaberigte gesê dat wette en regulasies nooit staties kan wees nie en gewysig moet word soos wat die konteks verander. Wysigings kan egter nie net aangebring word om sekere politieke doelwitte te dien nie.

Hy meen hoewel al die wysigings nie “sleg” lyk nie, dit wel voorkom of sommige daarvan skoolbeheerliggame se magte probeer inperk. Manuel sê voorts taal moet beskerm word en deur bloot leerlinge toe te laat sonder dat die skool se onderwysers die nodige taalvaardighede het om hulle te onderrig, sal dwaas wees.

Besoek www.virskole.com om jou mening te gee.

Soortgelyke plasings