|

Lang gras en slaggate: Wat het van die verkiesingsbeloftes geword?

Deur Eugene Brink

Dit is somer en saam met die hitte is daar ook reën in Suid-Afrika. Die noorde en ook sentrale dele van die land beleef trouens hewige reënbuie.

Dit is daarom begryplik dat dit daarmee saam sekere probleme veroorsaak. Dit skep byvoorbeeld slaggate of vererger die bestaandes en dit laat die gras uiteraard tbaie vinnig groei. Hoewel hierdie probleme nie gekeer kan word nie, behoort dit ten minste beteuel te word.

Dit is eerstens die taak van ’n munisipaliteit om hierdie probleme op te los – dit is immers waarvoor hulle betaal word deur middel van munisipale belasting en ander vorme van inkomste. En tog reën dit nie elke dag nie en op baie plekke staan die gras hemelhoog terwyl nuwe slaggate aanhou verskyn en bestaandes al hoe groter raak.

Net so opmerklik soos hierdie probleme is die afwesigheid van munisipale werkers wat besig is om hierdie probleme te pak. Vier maande gelede het ons aan ’n plaaslike verkiesing deelgeneem met die doel dat munisipale dienste en uitdagings voorkeur sal geniet. In die maande wat die verkiesing voorafgegaan het, is ons gepaai met allerlei (en baie keer vae) beloftes oor wat gedoen kan en sal word. In sommige gevalle is daar nie eens beloftes gemaak nie en ons is net gevra om te stem.

Ons het dus gestem en ons betaal belasting, maar nogtans word daar op baie plekke gewag dat gras gesny word en teer in slaggate beland. Ek sonder nie een spesifieke politieke party in hierdie verband uit nie. Dit is meer ’n kollektiewe politieke mislukking. Ander mense mag dit dalk anders sien, maar vir my en baie mense is dit onaanvaarbaar – veral as hulle nou al maande (trouens, jare!) gehad het om hul diensleweringshuis in orde te kry. Ek kan geen merkbare verskil sien nie en soos hierbo beskryf, het baie van die moeilikheid juis vererger. Hierdie probleme is nie net esteties van aard of ’n irritasie nie. Dit veroorsaak ongelukke en gepaardgaande beserings en selfs lewensverlies, en skep ’n teelaarde vir misdaad.  

Wat wel besig is om te gebeur, is dat gemeenskappe besig is om self in te klim om sake te beredder. In Parys en Sasolburg in die Vrystaat is die AfriForum-takke vlytig besig om talle slaggate te vul. In Benoni verwyder hulle onwettige borde en sny die gras in die groen stroke. Die tak in Rustenburg het onlangs 40 vragte rommel en tuinvullis verwyder. In Nelspruit word groen stroke ook opgeknap en parkies skoongemaak. In Wolmaransstad is 130 sakkies teer gebruik om slaggate self te vul. Die lys kan nog baie lank raak as ek alles hier moet opnoem – en dit het net in Januarie gebeur!

Terselfdertyd het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (met Parys as setel) geensins die aanbevelings in werking gestel ten opsigte van water en sanitasie wat AfriForum ingevolge ’n 2021-ooreenkoms aan hulle gemaak het nie. Trouens, hulle het nog nie eens begin om enige van die voorstelle te implementeer nie. In Johannesburg word daar steeds politieke speletjies gespeel en ontwrigting veroorsaak eerder as om op dienslewering gefokus. Twintig munisipaliteite het weens politiekery steeds nie hul raadskomitees verkies nie. Water- en kragprobleme kom oral voor en vererger – veral op die platteland.

Dit blyk duidelik dat vier maande nadat nog ’n plaaslike verkiesing gehou is, politieke beheer die grootste prioriteit vir politieke rolspelers is eerder as die mense wat vir hulle gestem het. Geen wonder mense wou nie gaan stem nie. Hoewel die weer ’n rol speel om sake te bemoeilik en daar beslis raadslede en amptenare is wat uitmuntende werk doen, is die algehele prentjie nie bemoedigend nie. Die vraag op my en baie ander mense se lippe is wat van die verkiesingsbeloftes geword het. Toe ons moes stem, is beloftes sonder voorwaardes gemaak. Nou kry ons verskonings en voorwaardes, of in baie gevalle nie eens nie. Hoeveel tyd het munisipale besture en raadslede nóg nodig om taamlik eenvoudige take te verrig, soos om gras te sny? Ek los dit aan elke leser om oor hierdie vrae na te dink.

Ek glo persoonlik dat gemeenskappe vir lief moet neem met die feit dat volgehoue druk en selfdoen die enigste maniere is om hul dorpe, stede en woongebiede se lot te verbeter. Die tyd vir ’n wag-en-sien-benadering is nou behoorlik verby.         

*Brink is ’n strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum

Soortgelyke plasings