|

Laersuidkus- en Amanzimtoti-takke dien voorstelle vir GOP’s in

AfriForum se Laersuidkus- en Amanzimtoti-takke het onlangs hulle voorstelle vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) onderskeidelik by die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit en eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit ingedien. Die takke het onder meer voorgestel dat ’n groter gedeelte van die begrotings aan infrastruktuur instandhouding en herstelwerk spandeer moet word. Verder het die takke ook kommer uitgespreek oor die hoeveelheid onreëlmatige uitgawes van dié munisipaliteite.

Elke jaar kry gemeenskapslede die geleentheid om voorstelle by hul munisipaliteite in te dien wat dan oorweeg sal word vir munisipaliteite se GOP’s. AfriForum se takke landswyd neem deel aan hierdie proses en vorige voorstelle is al in die GOP’s opgeneem en uitgevoer.

Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit

Die Laersuidkus-tak meen dat die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit ’n groter deel van die begroting aan instandhouding en herstelwerk behoort te spandeer. In 2021 en 2022 is R46 miljoen aan instandhoudingswerk spandeer, dít is slegs 5% van die munisipale begroting. Die nasionale tesourier vereis dat minstens 8% van die begroting aan instandhoudingswerk toegewy moet word. Die tak stel egter voor dat dié persentasie na 9% verhoog moet word ten einde infrastruktuur voldoende in stand te hou.

Hoewel die tak tevrede is dat R832,7 miljoen van die munisipale begroting plaaslik gegenereer is, is daar wel ’n bekommernis dat dit rekeninghouers gemiddeld 175 dae neem om hul munisipale rekeninge te vereffen. Volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet moet alle gelde wat aan die munisipaliteit verskuldig is binne 30 dae vanaf die ontvangs van die rekening betaal word. Volgens die AfriForum-tak behoort die munisipaliteit strenger op te tree sodat betaling vinniger kan geskied.

Volgens Theuns Boshoff, voorsitter van AfriForum se Laersuidkus-tak, is dit belangrik om deel te neem aan die GOP-proses ten einde te verseker dat die munisipaliteit bewus is van die gemeenskap se behoeftes en bekommernisse.

“As die munisipaliteit nie ’n groter deel van die begroting aan instandhouding en herstelwerk wil spandeer nie sal die vervallende infrastruktuur en netwerke dienslewering verder knou. Daar is ook verskeie strate oor die Laersuidkus wat dringend herstel moet word en die Ray Nkonyeni-munisipaliteit moet ook behoorlike beplanning doen sodat die plaaslike water- en rioolnetwerke oor ’n paar jaar opgegradeer kan word,”  meen Boshoff.

eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit

AfriForum se Amanzimtoti-tak het hulle uitgespreek oor die ouditeur generaal se bevinding dat daar onmededingende en onregmatige verkryging was by die eThekwini-metro veral ten opsigte van toekennings wat aan familielede gemaak is. Die tak stel voor dat dringende voorsorg in plek gestel moet word ten einde hierdie onreëlmatighede uit die weg te ruim.

Hoewel die metro 8.9% van die munisipale begroting spandeer het aan instandhouding en herstelwerk meen die AfriForum-tak dié persentasie verhoog moet word na 15% veral met die vloedskade in ag genome.

Sowat R4,8 miljard van die munisipale begroting is ook toegeskryf aan vrugtelose en verkwiste uitgawes. Die tak beskou dit as onaanvaarbaar veral omdat hierdie uitgawe in 2021/2022 hoër was as vorige jare.

Rekeninghouers van die eThekwini-metro neem gemiddeld 88 dae om hul rekeninge te vereffen terwyl die metro self gemiddeld 71 dae neem om hul eie rekeninge te betaal. Daarbenewens word 58% van die metro se rekeninge glad nie verhaal nie.

Volgens Jannie van Staden, voorsitter van AfriForum se Amanzimtoti-tak, het die metro ’n verpligting teenoor die gemeenskap om te sorg dat die begroting reg aangewend word ten einde aan die gemeenskap se behoeftes te voldoen.

“Ons het ook versoek dat verskeie straatligte in Amanzimtoti herstel moet word, die netheid van sommige parke moet ook opgeskerp word en Beachweg moet dringend herstel word. Die Suidkus is afhanklik van toerisme en die toestand van sommige infrastruktuur knou die plaaslike toerismebedryf,” sluit Van Staden af.

Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, meen dat onnodige verkwisting van fondse ’n ernstige impak het op dienslewering, toerisme en die plaaslike ekonomie. “AfriForum se takke in KwaZulu-Natal neem aktief deel aan die GOP-proses en dit is ook nodig dat ons kommentaar lewer op die bevindinge van die ouditeur generaal sodat ons kan verseker dat munisipaliteite hulle verpligtinge nakom. Die voorstelle wat ons indien is geformuleer om dienslewering te verbeter en ons hoop dat die munisipaliteite dit werklik ter harte neem.”

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings