KYK: MILJOENE SE VERLIESE IN VRYHEID NÁ MOONTLIKE TENDERBEDROG
Deur Marthinus Koekemoer
Beweerde tenderbedrog in Vryheid, KwaZulu-Natal, het na raming moontlik reeds miljoene rande in Hendrick Vusumuzi Mbatha, ’n plaaslike sakeman, se sak gesit pleks van in die AbaQulusi-munisipaliteit se koffers. AfriForum het in Mei ’n hofsaak teen die munisipaliteit aanhangig gemaak omdat die polisie se ondersoek na die saak nie juis vordering getoon het nie.
’n Denneplantasie van sowat 780 ha, wat voorheen vir 30 jaar uitgekontrakteur was, word sedert Desember 2020 stelselmatig uitgekap met omtrent 20% van die bome wat reeds uitgedun is. Die plantasie is sowat 10 km buite die dorp.
“Die eerste wat ons agtergekom het dat daar ’n probleem is, was toe iemand opgemerk het ou dennebome, wat reeds omtrent 100 jaar oud was, word naby die Bloemvelddam afgekap,” sê Sonette Gaskell, ’n plaaslike prokureur wat neffens die plantasie woon. “By navraag het die werkers wat die bome uitkap gesê hulle werk vir Mbatha en dat hulle by die munisipaliteit toestemming gekry het om die bome af te kap. Ons het die betrokke persoon by die munisipaliteit gekontak om navraag te doen, maar hy het ontken dat hy die dokument vir toestemming onderteken het.”
Daar is gevra dat die polisie ondersoek instel, maar daar was nie veel vordering nie. Dis toe dat AfriForum ’n hofsaak teen die munisipaliteit aanhangig gemaak het.
“Volgens inligting wat aan ons voorsien is, het Mbatha ’n tweejaarkontrak om die plantasie te bedryf en hy moet 20% van die winste aan die munisipaliteit oorbetaal,” sê Marjorie van Schalkwyk van Hurter Spies Prokureurs, wat die saak namens AfriForum gemaak het. “Ons meen die tender is op onregmatige wyse bekom. Die korrekte tenderproses is nie gevolg nie en dus het niemand tans die reg om die bome te stroop nie.”
Elke hektaar bome is ongeveer R100 000 werd. Hout en bas word verkoop. Dit neem omtrent sewe jaar om ’n boom by die punt te kry waar dit vir gebruik afgekap kan word. Tans word daar nie nuwe bome aangeplant nie met groot stukke grond wat reeds braak lê. Dis juis om hierdie rede dat langtermyn kontrakte gewoonlik toegestaan word om die die aanplant van nuwe bome aan te moedig.
Volgens Belinda Cooper, ’n koördineerder van die Magaliesberg Biosfeer, het hierdie gebied soortgelyke probleme. “In Magalies word hout ook op verskeie plekke uitgekap. Net die kern van die omgewing geniet enige daadwerklike beskerming en selfs daar kap mense soms bome af sonder dat daar gevolge is. Dít nieteenstaande die feit dat UNESCO Magalies tot ’n Wêreld Biosfeer-reservaat verklaar het.”
Cooper sê daar is nie veel hulp van die staat om bome te help beskerm nie. Sy meen ook ’n plantasie soos dié by Vryheid het ’n goed beplande heropbouprogram nodig om seker te maak dit bly op die langtermyn lewensvatbaar.
Gaskell sê dis moeilik om te bepaal presies hoeveel bome al in die plantasies by Vryheid verwyder is en dus hoeveel aan die munisipaliteit verskuldig is. “Daar is nie juis kontrole oor hoeveel hout by die plantasie uitgaan nie,” sê sy. “Soms is dit vragmotors vol en ander kere is dit sommer iemand met ’n bakkie wat ’n vrag wegry. Of die munisipaliteit enigsins vergoed word, is ’n ope vraag.”
AfriForum se aansoek is gebring om die besluit wat die munisipaliteit geneem het om die tender aan Mbatha toe te ken, te laat hersien. Van Schalkwyk sê die rede hiervoor is eenvoudig. “Die munisipaliteit het nie die publiek geraadpleeg toe hulle dié besluit geneem het nie,” sê sy.
“Al die partye het ons aansoek onderteken en die munisipaliteit het aangedui hulle gaan dit opponeer. Hulle moes ons van die rekord van die besluit voorsien het, maar het nog nie. Ons hoop die rede hiervoor is dat hulle wel die besluit sal hersien en aan wetgewing sal voldoen as hulle weer die kontrak toeken,” sê Van Schalkwyk.