|

Kyk: Bizos skuld bevind, staat moet privaatvervolgingseenheid se regskoste betaal

Byna 10 jaar nadat Alexi Bizos, seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat, George Bizos, vir Monique van Oosterhout in hulle huis in Johannesburg ernstig aangerand het, is hy danksy die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid skuldig bevind.

Van Oosterhout, wat intussen van Alexi geskei is, het die privaatvervolgingseenheid in 2018 genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om hom te vervolg. Nadat die eenheid aangekondig het dat hulle aansoek gaan doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat Alexi privaat vervolg kan word, het die NVG sy besluit om nie te vervolg nie, omgekeer. Alexi is toe genooi om vertoë te rig voordat vervolging ingestel sou word, maar by ontvangs van sy terugvoer het die NVG weer besluit om nie te vervolg nie. Dit het Van Oosterhout, met die eenheid se ondersteuning, genoop om aansoek te doen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid en aanklaer in dié baanbrekersaak, het in 2020 ’n verhoordatum verseker sodat die privaat vervolging van Alexi kon begin. Bizos, wat Vrydag skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, sal later vanjaar gevonnis word. Ses van Van Oosterhout se ribbe is destyds weens die aanranding gebreek. Die staat moet boonop ook die privaatvervolgingseenheid se regskoste betaal.

Volgens Van Oosterhout sou sy nooit die geleentheid gehad het om haar weergawe van die gebeure te vertel nie as dit nie vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid was nie. Sy het ná die uitspraak gesê sy is oortuig dat indien die privaatvervolgingseenheid nie by haar saak betrokke geraak het toe sy hulle om regsadvies genader het nie, dat die saak nie so sou geëindig het nie.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal sy stryd voortsit om te verseker dat niemand bo die wet verhewe is nie. Hierdie skuldigbevinding ontbloot die NVG se selektiewe vervolging en bevestig ons oortuiging dat die besluit om Bizos nie te vervolg nie gegrond was op sy verhouding met die bekende George Bizos. Die landdros het bevind dat die beskuldigde ’n swak getuie en ontwykend was en dat sy getuienis besaai was met teenstrydighede. Sy bewering dat hy in werklikheid die slagoffer was en uit selfverdediging opgetree het, is ook deur die hof verwerp. Aan die ander kant het die hof bevind dat Van Oosterhout ’n goeie getuie is wat ’n logiese en duidelike prentjie geskets het van wat gebeur het,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings