KSA se SJN-transformasieproses, Mark Boucher en Graeme Smith se onskuld
Krieket Suid-Afrika (KSA) het in 2021 ’n ondersoek na maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) geloods waartydens verskeie individue hulle ervarings rakende rassediskriminasie in krieket met die transformasie-ombudsman, advokaat Dumisa Ntsebeza, en sy paneel kon deel. Een van die hoofsake wat uit hierdie sittings voortgespruit het, was dié van die voormalige Proteas-kaptein Graeme Smith, wat deur Thami Tsolekile daarvan beskuldig is dat hy hom van 2012 tot 2014 nie in die span wou hê nie en dat die rede hiervoor sy velkleur was. Smith is verder daarvan beskuldig dat sy aanstelling van Mark Boucher as hoofafrigter van die Proteas in 2019, bo Enoch Nkwe, ook rasgemotiveerd was. Albei hierdie sentimente is deur die transformasiepaneel, gelei deur adv. Ntsebeza, aanvaar en ’n formele klag van rassisme, rassevooroordeel en rassediskriminasie is tydens ’n onafhanklike arbitrasieproses ondersoek.
Krieket Suid-Afrika het in ’n mediaverklaring bekend gemaak dat alle klagtes teen huidige hoofafrigter van die nasionale manskrieketspan, wat uit hierdie proses voortgespruit het, teruggetrek word. Dit volg ná Paul Adams ’n publieke verklaring gemaak het dat hy nie verder beskikbaar sal wees vir getuienis in hierdie saak nie. Adams noem in sy verklaring dat hy betrokke geraak het by die proses om die ongeregthede van die verlede uit te lig sodat toekomstige generasies nie aan soortgelyke omstandighede blootgestel sal word nie. Hy beklemtoon dat hy geen intensie gehad het om iemand uit te sonder of te beskuldig vir wat gebeur het nie en bevestig ook dat hy nooit in sy getuinis vir Mark Boucher uitgesonder het nie, maar dat die paneel Mnr. Boucher se naam uitgesonder het tydens ‘n vraag. Dit wil voorkom of die verneemde politiese agendas agter hierdie proses gevaal het as gevolg van die ontrekking van Mnr. Adams se ontrekking as getuie.
Dit is verder onlangs bekend gemaak dat Smith onskuldig bevind is aan al die klagtes wat teen hom ingedien is. Hierdie bevinding was vir die meeste mense wat arbeidsregprosesse verstaan en die erns van hierdie klagtes begryp, nie ’n verrassing nie. Die realiteit is egter dat Smith, wat as een van Suid-Afrika se voorste gewese krieketkapteins beskou word en alom bekend is vir die sterk verhoudings wat hy met ander nasionale krieketliggame het, se reputasie ernstige skade gelei het en dit as gevolg van ’n gebrekkige proses wat sowat R7.5 miljoen gekos het. Dat daar sake was wat aangehoor en hanteer moes word tydens hierdie proses, word nie hier betwis nie. Eerder dat Ntsebeza en sy paneel gefaal het om ’n deursigtige proses te volg wat alle betrokke partye beskerm en in belang van vooruitgang vir krieket en sport in SA en almal wat daarby betrokke is, op te tree.
AfriForum het ook aan hierdie proses deelgeneem en het tydens sy voorlegging sterk aangevoer dat enige vorm van diskriminasie wat tydens die proses bewys word, streng veroordeel moet word. AfriForum het verder genoem dat daar drasties na diskriminerende beleide soos “transformasieteikens” (die kwotastelsel) gekyk moet word wat in wese teen individue diskrimineer gebaseer op die kleur van hulle vel.
AfriForum het egter nie voor die SJN-verhoorpaneel verskyn net om kritiek te lewer nie. Die organisasie het ’n gedetailleerde sespuntplan vir sportontwikkeling aangebied. In plaas daarvan om ’n immorele en verdelende beleid te aanvaar wat op rasprofilering en kwotas gebaseer is, moet Suid-Afrikaanse sportbeheerliggame en die regering rolspelers betrek om alternatiewe maniere te vind om die spelersbasis te verbreed deur middel van omvattende ontwikkelingsprogramme.
Werklike en betekenisvolle ontwikkeling behels meer as enkele fotogeleenthede waar krieketspelers getekende krieketballe en T-hemde aan kinders uitdeel. Dit is ’n behoorlik gestruktureerde en befondsde langtermynplan met inkoop van alle belanghebbendes. Sportbeheerliggame kan dit nie alleen doen nie. Burgerlike samelewingsorganisasies en nasionale, provinsiale en plaaslike regerings moet ’n leidende rol in hierdie verband speel. ’n Omvattende sportontwikkelingsprogram moet hoofsaaklik fokus op gebiede waar ’n gebrek aan hulpbronne die blootstelling van jong spelers aan die sport belemmer. Behoefte – nie ras nie – moet die deurslaggewende faktor vir ingryping wees.
Dit is geen verrassing dat hierdie insette tot op hede nog nie verder ondersoek of bespreek is nie. Klem is geplaas op ongegronde aksies wat mediasensasie kon ontlok en as kitsoplossings tot ’n baie komplekse probleem in Suid-Afrikaanse sport kon dien. Ntsebeza en sy paneel se tjeks is geteken en KSA kan sê dat hy onregverdighede van die verlede hanteer het.
En wat nou?
Die politiese ondertoon van hierdie proses is ontbloot deur die klagtes teen Mark Boucher wat onttrek is, Smith se kontrak as direkteur van krieket is nie hernu nie en sy reputasie gaan nie in ’n oogwink herstel word nie. KSA se onvermoë is weer deur hierdie transformasieproses bewys en internasionale krieketliggame verloor verdere vertroue in Suid-Afrika se krieketbeheerliggaam. Ons verstaan verder dat miljoene rande tydens hierdie proses spandeer is wat sekerlik baie beter aangewend kon word vir daadwerklike ontwikkeling en dat hierdie proses geen vooruitgang vir “transformasie” in krieket in SA beteken nie.
Almal hou met groot oë dop wie as Smith se opvolger aangewys sal word en watter proses gevolg sal word met hierdie aanstelling. Die hartseer realiteit vir die meeste krieket- en sportliefhebbers in SA is dat KSA hom steeds op ’n baie donker plek bevind en dat daadwerklike ontwikkeling van jong talent steeds nie ’n kernprioriteit is nie.
Die private sektor se ondersteuning van onafhanklike liggame wat bewyse lewer van daadwerklike ontwikkeling en bemagtiging, is nou belangriker as ooit. Dit is tyd dat gemeenskappe, organisasies en burgerregte-instansies standpunt inneem en self verantwoordelikheid neem vir samewerking, ontwikkeling en vooruitgang. Die tyd het geleer dat dit nou tyd is om vrede te maak met die werklikheid en self verantwoordelikheid te neem vir ons en ons nageslagte se toekoms.