|

Kroonstad stik aan nóg riool noudat voormalige munisipale bestuurder weer aan die stuur is – AfriForum

AfriForum en die breër gemeenskap van Kroonstad is hewig gekant teen die heraanstelling van Sonnyboy Mokgatle as munisipale bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit. Sy heraanstelling volg ten spyte van ’n ondersoek na Mokgatle se betrokkenheid by die storting van rioolvuil in die munisipale gebied, waarvoor hy in 2022 strafregtelik vervolg is. Kort ná die indiening van die klag het Mokgatle uit sy pos bedank en by monde van sy regsverteenwoordiger gesê dat hy nie verder by die munisipaliteit betrokke sou wees nie.

Twee jaar later is hy weer in dieselfde posisie aangestel – ’n stap wat deur AfriForum beskou word as ’n teken van onverantwoordelike bestuurspraktyke deur die munisipaliteit en ’n onwilligheid om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou.

AfriForum het verlede maand aangekondig dat hy in die proses is om regstappe teen die huidige munisipale bestuurder van Moqhaka te doen oor die ernstige rioolprobleme op die dorp. Kort daarna is Mokgatle heraangestel. Sy hantering van die destydse rioolprobleme wek ernstige kommer by inwoners, aangesien Kroonstad al vir langer as ’n dekade met hierdie probleem sit.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, dra die voortdurende poswisseling onder munisipale bestuurders by tot die wantroue en frustrasie wat inwoners van die Moqhaka-munsipaliteit voel. “Die rondskuiwery om onbevoegdheid te verdoesel en aanspreeklikheid te vermy is nie net oneties nie, maar ’n gruwelike verbreking van inwoners se vertroue in die munisipaliteit om dienslewering te verrig. Dit raak boonop totaal en al afgesaag,” sê sy.

AfriForum doen nou ’n beroep op die Regering van Nasionale eenheid (RNE) om deursigtigheid en verantwoordbaarheid by munisipaliteite te prioritiseer én hervormings in te stel wat sal verhoed dat individue wat eens aanspreeklik gehou was vir mislukte projekte, weer in dieselfde posisies aangestel word.

Johan Fourie, voorsitter van AfriForum se Kroonstad-tak, het intussen versoek dat Mokgatle hom na die rioolpompstasie vergesel sodat alle onduidelikheid rondom die herstel van die pompstasie uitgeklaar kan word. Benewens dat daar onbehandelde riool in riviere gestort word, word woongebiede ook gereeld met riool oorstroom weens die gebrekkige bestuur en instandhouding van rioolpompe en -aanlegte.

Soortgelyke plasings