Kroeg se dranklisensie word weggeneem
’n Kroeg wat deur verskeie eienaars besit word en al vir meer as vyf jaar bestaan, se deure is ná langer as ’n jaar se gespook uiteindelik gesluit.
Klagtes wat deur verskeie inwoners by die Amsterdam-polisiestasie gelê is, sluit in rusverstoring soos alkoholmisbruik op straat, harde musiek en motors wat die grasperke van gemeenskapslede in die omgewing verniel, asook mense wat mekaar met wapens dreig en aanval. Dié klagtes is tot dusver bloot geïgnoreer.
“Ná die soveelste klagte wat op dowe ore geval het, het AfriForum se Piet Retief-tak besluit om die inwoners met hul frustrasies te help. Die tak het genoeg bewyse ingesamel om ’n klag by die drankraad in te handig, en was uiteindelik suksesvol om van die kroeg en sy steurnisse ontslae te raak,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.