Krans namens AfriForum op Boerekrygsgevangenegrafte op Sint Helena gelê
Deur Alana Bailey
Sint Helena is ’n eiland van 121 km2 in die Atlantiese Oseaan wat veral bekend is daarvoor dat Napoleon en sowat 6 000 Boerekrygsgevangenes daar aangehou is. Omdat die eiland so afgeleë is – dit is meer as 2 000 km van die naaste ander landmassa – kon dit deur die eeue slegs per boot bereik word en het die net meer as 4 000 permanente inwoners redelik afgesonderde lewens gelei.
’n Nuwe era het egter nou aangebreek met gereelde kommersiële vlugte tussen Suid-Afrika, Namibië en die eiland, wat sedert 14 Oktober 2017 plaasvind. Paul O’Sullivan het die vlug meegemaak en aangebied om namens AfriForum ’n krans by die gedenkteken vir die Boerekrygsgevangenes te lê.
Paul vertel in sy eie woorde:
Ek het net voor elf op Sondagoggend by die begraafplaas aangekom en verwag om niemand anders daar te raak te loop nie. Ek het gedag dat ek daarheen sou gaan, die krans stil-stil namens AfriForum sou lê, my respek sou betoon en dan weer stil sou vortgaan.
Met my aankoms sien ek egter dat die pad deur motors beset is omdat so baie mense daar is. Ons moes ’n honderd meter verder parkeer en die nou paadjie te voet in die reën aandurf.
Die Boerebegraafplaas, wat ’n laaste rusplek aan 180 krygsgevangenis bied, is reg langs die Baptistebegraafplaas – bekend as Knollcombe –al langs ’n lang, deurdrenkte en glipperige grasvoetpaadjie geleë. Dit het so lank gereën dat my voete tot in die modder onder die gras gesak het. Gelukkig het ek enkelhoë stewels gedra en kon die modder nie by my skoene instroom nie.
By die begraafplaas aangekom, merk ek op dat baie mense daar byeengekom het ondanks die ongure weer en modderpaadjie. Die ysterreëlings om die twee gedenkstene het onlangs ’n nuwe, wit verflaag gekry, en so ook die grafstene. Twee vlae het oor die reëlings gehang: die eerste die ou Zuid-Afrikaansche Republiekvlag en die ander die ou Oranje-Vrijstaatvlag. Ek het dit as ’n duidelike teken van respek beskou omdat die regering vir twee weke reeds geweet het dat die krans gelê sou word. Ek is versoek om ’n wyle te wag omdat die goewerneur Lisa Phillips op pad was.
Die goewerneur van die eiland is die amptelike verteenwoordiger van die Koningin en die Britse regering. In dié geval is die goewerneur amptelik bekend as die “goewerneur van St. Helena, Ascension en Tristan da Cunha”. Dié eilande lê wyd oor die Suid-Atlantiese Oseaan versprei met ’n afstand van 3 700 km tussen elkeen, terwyl sowel St. Helena as Ascension tropiese eilande is. Twee van hulle is uitgestorwe vulkane van meer as 50 miljoen jaar gelede. Tristan da Cunha het skynbaar in 1961 gedeeltelik uitgebars, maar dit word nou aanvaar dat die vulkaan dormant is.
Nes ek, het die goewerneur met die reëndeurweekde paadjie aangesukkel gekom. Toe sy uiteindelik by die gedenkteken aankom, het die modder bo-oor haar skoene tot binne-in gekruip. Wellington-stewels sou beter gewees het, maar dit was ’n ander oorlog, 200 jaar gelede en ver hiervandaan in die modder van die Belgiese Lae Lande, wat vir St. Helena se eerste krygsgevangene gesorg het: Napoleon Bonaparte en ’n handvol van sy generaals. Daar word vertel dat generaal Piet Cronjé met sy aankoms in St. Helena die graftombe van Napoleon gesalueer en met dié woorde begroet het: “Same enemy, Sire! Same result”. [Volgens die oorspronklike bron – die tydskrif Punch – het Cronjé Bonaparte se spook gesien en dié aangespreek. Alle bronne dui dié woorde egter in Engels aan, wat, komende van ’n Boeregeneraal, baie vreemd sou wees. – Red.]
Toe die eerste groep Boerekrygsgevangenes op 16 April 1900 op St. Helena voet aan wal sit, het die destydse goewerneur, afgetrede generaal R.A. Sterndale CMG, die volgende verklaring uitgereik:
Sy Eksellensie spreek die hoop uit dat die bevolking die krygsgevangenis met hoflikheid en agting sal behandel, wat aan elke man betoon moet word wat dapper geveg het vir wat hulle as ’n landbelang beskou, en enige onbehoorlike gedrag sal onderdruk wat individue mag toon.
Al 6 000 krygsgevangenes is dwarsdeur hul verblyf met respek behandel.
Voordat die kranse gelê is, het die afgetrede Baptiste-prediker Graeme Beckett die Last Post gespeel. Ná een minuut van stilte ter nagedagtenis aan die oorledenes het hy ook Reveille gespeel. Volgens protokol het die goewerneur die eerste krans namens die koningin en die Britse regering gelê en in die proses selfs méér modder in haar skoene opgegaar. Hoewel sy ’n sambreel aangebied is, het sy dit beleefd van die hand gewys en die reën getrotseer. Ná sy die krans gelê het, het sy teruggestaan en haar kop plegtig gebuig. Dit sal moeilik wees om ’n fyner Britse “stywe-bolip-vertoning” teë te loop.
Ek het daarna die krans namens AfriForum gelê, waarna Basil George, ’n opgewekte 70 jaar-oue Boere-afstammeling, ’n krans namens die eilandbewoners – plaaslik bekend as “Saints” – gelê.
Die Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners wat teenwoordig was, het daarna twee versies van Sarie Marais gesing, wat ’n gepaste en emosionele afsluiting van die seremonie was. Daarna het een en elk teruggestap na hul motors, waar ons vir die goewerneur gewag het om eerste weg te ry.
Ek kon nie anders as om op te merk dat daar ’n aantal tieners begrawe is nie, die jongste maar 16 jaar oud. Ek het ook een of twee Ierse name opgemerk, wat my aan my oorlede oom laat dink het, wat saam met die Transvaalse Iere in die Boereoorlog geveg het.
Ek beveel dit sterk aan dat mense wat St. Helena nog nie besoek het nie, die eiland wel besoek. Die inwydingsvlug na die eiland op 14 Oktober 2017 was binne minute uitverkoop ná sitplekke vrygestel is. Die vlug – deur Airlink met ’n Embraer E190 – word elke Saterdag van sowel Kaapstad as Johannesburg onderneem. Vanuit Johannesburg neem die vlug tot in Windhoek twee ure, waar die vliegtuig weer brandstof inneem en passasiers vanuit Kaapstad oplaai. Daarna is dit ’n 3 ure-vlug oor die Suid-Atlantiese Oseaan. Retoerkaartjies gaan jou sowat R15 000 uit die sak haal, en dit is belangrik om genoeg kontant (Britse ponde) saam te neem, omdat daar geen OTM’s of kredietkaartfasiliteite op die eiland beskikbaar is nie. Die eiland is misdaadvry – motors staan met die sleutels steeds in die knormoer en huise word ongesluit gelaat, selfs al is niemand tuis nie.
St. Heleners, of te wel “Saints”, is bekend as die vriendelikste mense in die wêreld. Ek is voorwaar beïndruk met hul vriendelikheid en gasvryheid. Ondanks die teruggaan in tyd weens die eeuelange afgesonderdheid (buiten natuurlik die sesweeklikse besoek van die posboot), het St. Heleners intussen darem wêreldse goed soos DStv en selfone aangegryp.
Daar was sprake dat ’n lughawe op St. Helena die afgesonderdheid van die eilandbewoners tot ’n einde sou bring, maar ek dink dat dit eerder die res van die wêreld was wat afgesonder was van een van die mooiste tropiese eilande op aarde met die vriendelikste, dog kleinste bevolking.
Die bewoording op die krans wat hy namens AfriForum gelê het, lui:
Ter herinnering aan die Boerekrygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in hulle stryd teen Britse Imperialisme vir die behoud van die vryheid van die Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR/Transvaal) en die Oranje-Vrijstaat, deur Britse magte gevange geneem en hier aangehou is – veral ook diegene wat hier oorlede is. Ons eer julle nagedagtenis – mag julle in vrede rus.
Mense wat graag meer oor ’n besoek aan dié eiland te wete wil kom, kan by https://flyairlink.com/destinations/flights-to-st-helena en http://sthelenatourism.com/ inloer.