Kraaifontein-buurtwag dra inwoners se belange op die hart – 60 nuwe kameras om gebied te beveilig
Die AfriForum-tak en -buurtwag in Kraaifontein dra hierdie gemeenskap se belange so na aan die hart dat sy lede op hul eie onkoste die gebied help beveilig. Hierdie lede het in die afgelope paar maande self 60 nuwe veiligheidskameras in die omgewing laat installeer en ’n erf omhein wat gereeld deur misdadigers geteiken word. Die buurtwag het sy eie beheerkamer waarvandaan die beeldmateriaal van die kameras gemonitor word. Die veiligheidsmaatskappy Titanium Security monitor ook deur die dag die beeldmateriaal vanaf sy eie beheerkamer.
“Daar is niks wat op Kraaifontein se strate gebeur wat AfriForum se buurtwag nie van weet nie en tesame met die noue verhouding wat die buurtwag met Titanium Security, die plaaslike polisiediens en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gekweek het, is daar geensins ’n tekort aan reaksiespanne om op noodgevalle te reageer nie,” sê Dawid Burger, voorsitter van AfriForum se Kraaifontein-tak en een van die lede wat gehelp het om die veiligheidskameras te befonds.
Wanneer die buurtwag nie die strate patrolleer nie, is sy lede besig om erwe te beveilig wat gereeld deur misdadigers gebruik word om toegang tot woonbuurte te verkry. Die buurtwag het vandeesmaand ondervind dat misdadigers gereeld toegang tot ’n erf in Bonnie Brae verkry omdat dit nie beveilig is nie. Die lede het dit self op hul eie onkostes omhein. Misdadigers het ook oor ’n muur in die Joostenbergvlakte-area begin klim om toegang tot die gebied te kry. Die buurtwag het weer aan die werk gespring en dié keer die muur met lemmetjiesdraad omhein.
“Ons veiligheid en dié van ons kinders het geen prys nie, daarom sal ons alles in die stryd werp om te verseker dat ons gemeenskap veilig is,” sê Burger.
Kontak Burger by 083 500 5420 of besoek www.wordlid.co.za om by hierdie tak en sy buurtwag betrokke te raak.