|

Kovsies moet wegbeweeg van “Jansen-era”

Verskeie belanghebbendes het onlangs kommer uitgespreek nadat ’n kortlys bekendgemaak is met moontlike kandidate om prof. Jonathan Jansen as rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV) op te volg.

Prof. Lis Lange, waarnemende viserektor: akademie by die UV, prof. Francis Petersen, adjunk visekanselier: institusionele innovasie by die Universiteit van Kaapstad (UK) en prof. Themba Mosia, viserektor: studentesake, koshuisaangeleenthede en behuising by die Universiteit van Pretoria (UP), is die drie name wat op dié lys verskyn.

Luidens mediaberigte is al drie kandidate reeds as “aanstelbaar” bevind nadat onderhoude vroeër vandeesmaand begin het.

ʼn Hoëronderwyskenner, wat anoniem wil bly, het aan Forum Nuus gesê dié drie kandidate is liggewigte wat almal Jansen se goedkeuring wegdra.

“Jansen het ʼn reputasie om van goeie mense ontslae te raak en soos president Jacob Zuma homself te omring met mense wat sy denkwyse deel.”

Volgens dié bron is die groot kwessie wat hier ter sprake is Jansen se nalatenskap by Kovsies. “Deur een van dié kandidate as rektor aan te stel, sal Jansen steeds die geleentheid hê om die universiteit agter die skerms te beïnvloed.”

Jansen het die UV einde Augustus verlaat en vandeesmaand ’n genootskapspos aan die sentrum vir gevorderde studie en gedragswetenskappe aan die Stanford-universiteit in die VSA aanvaar. Dit is onduidelik hoe lank hy in die VSA gaan wees en of hy binnekort weer na Suid-Afrika of dalk selfs Kovsies sal terugkeer.

Nog ’n ingeligte bron het veral Lange se kandidatuur bevraagteken omdat sy nie aan die vereistes vir ’n rektor voldoen nie. Sy was ook betrokke by die opstel van die UV se konseptaalbeleid nog voordat die taalkomitee daaraan begin werk het. “Daar was onsekerheid rondom haar onderhoudsproses, omdat sy binne ʼn baie kort tyd bevorder is.”

Van die UV se personeel meen Petersen is die beste kandidaat vir die rektorspos, terwyl sekere studenteleiers eerder hoop dat Mosia die pos al beklee.

Forum Nuus se bron stem saam dat Petersen moontlik die beste kandidaat van die drie is. Hy meen egter nie een van hulle is werklik geskik om te antwoord op die UV se huidige probleme nie.

“Die UV het ʼn leier nodig wat die kampus se finansiële uitdagings kan hanteer, wat ten minste vyf jaar se leierskapservaring het én wat die vermoë het om verskillende belanghebbendes se belange in ag te neem, sonder om ʼn verdelende figuur te wees.”

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is tyd dat die UV wegbeweeg van die “Jansen-era”.

Sy meen Kovsies het ʼn rektor met ʼn oop ingesteldheid teenoor meertaligheid nodig en iemand wat nie akademiese vryheid sal onderdruk nie. “Die UV se volgende visekanselier moet respek hê vir die kampus se verlede, maar ook versiende genoeg wees om die universiteit die toekoms te kan inneem sodat die instelling akademies uitnemend kan bly.”