| |

Korrektiewe Dienste moet aankondig of Zuma terug gaan tronk toe

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op Makgothi Thobakgale, Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, om sonder uitstel aan te kondig of oudpres. Jacob Zuma na die Estcourt-gevangenis moet terugkeer. Dít volg nadat sy mediese parool deur die Konstitusionele Hof onwettig verklaar is, danksy AfriForum en ander wat in 2021 regstappe geneem het om die vrylating van Zuma te beveg.

“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrikaanse landsburgers reeds 23 dae in spanning moet wag om te hoor of Zuma, wat optree asof hy bo die wet geag word, wel sy volle vonnis in die tronk gaan uitdien, soos hy behoort te doen,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum.

Zuma se mediese parool, wat deur Arthur Fraser, voormalige Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, toegestaan is, is op 13 Julie onwettig verklaar. AfriForum verwag ’n dringende antwoord van Thobakgale en staan gereed om verdere stappe te doen indien die finale besluit onwettig of onreëlmatig is.