|

KONSEPWYSIGINGSWET OP VUURWAPENWETGEWING ONDER SKOOT

Deur Marnus Kamfer

Ontwapening, een of ander duistere agenda wat gekoester word, malligheid, irrasionaliteit, waansinnigheid – dit is maar enkele van die reaksies wat deur regdenkende burgers geuiter is met die oorhoofse bekendmaking van die gewraakte beoogde wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapenso 60 van 2000, in die Staatskoerant van 21 Mei 2021.

Die veranderinge wat in die redelik lywige konsepwet beoog word, is egter verreikender as wat uit die mededeling in die Staatskoerant blyk. Dit kan vinnig aanleiding gee tot verdere en waarskynlik meer gekruide woorde van misnoeë. Die lys van beoogde wysigings is lank, en hierdie stuk is ’n poging om net die mees opspraakwekkende bepalings te belig.

Die hele stuk konsepwetgewing is geskoei op die aanhef, wat onder meer spesifiek meld dat dit in Suid-Afrika ’n voorreg is om ’n vuurwapen te besit – en nie ’n reg nie. Ook dat te veel vuurwapens die sekuriteit en veiligheid van die land en sy burgers kan bedreig en daarom verminder en strenger gereguleer moet word.

Voornemende sportskutte, toegewyde jagters en professionele jagters moet vir bevoegdheidsertifikate aansoek doen om dié status te bekom en/of te behou. Voorts word daar strenger na die doen en late van persone gekyk om seker te maak dat hulle vir dié status kwalifiseer.

Swartkruitgewere of voorlaaiers word nou pertinent onder die definisie van ’n vuurwapen ingeskryf, en eienaars van swartkruitgewere moet binne twee jaar ná die inwerktreding van die wet die swartkruitgeweer as vuurwapen lisensieer.

Semi-outomatiese gewere en haelgewere val nou onder die definisie van “beperkte” wapens, word aansienlik strenger gereguleer en kan net in uitsonderlike omstandighede besit word. Die registrateur het die bevoegdheid om die ammunisie wat hy/sy as verbode ammunisie ag só te verklaar, wat beteken dat dié ammunisie glad nie aangekoop of vervaardig mag word nie.

Bevoegdheidsertifikate en lisensies kan aan persone jonger as 21 jaar, maar ouer as 18 uitgereik word as dié persone goeie redes kan gee waarom hulle daarvoor kwalifiseer. Voorbeelde van dié redes is as hulle dit nodig het vir hul sakeonderneming of die status van ’n toegewyde jagter of sportskut het.

Die aangewese verantwoordelike persoon wat namens ’n regspersoon (bv. ’n sekuriteitsmaatskappy) aansoek doen vir die maatskappy se vuurwapenlisensies, moet nou ’n uitvoerende en/of bestuurspos beklee.

Daar word baie verantwoordelikhede op geakkrediteerde instansies (waaraan byvoorbeeld professionele jagters moet behoort) geplaas om hul lede te moniteer. Daar word selfs van dié instansies verwag om namens hul lede motiverings te gee sodat hul lede as professionele jagters kan kwalifiseer.

Alle bevoegdheidsertifikate is net vir vyf jaar geldig, en daar moet – soos in die geval van ’n lisensie – 90 dae voor die tyd aansoek gedoen word vir hernuwing.

Die registrateur moet seker wees dat persone wat vir lisensies aansoek doen geldige redes – ooreenkomstig die wet se vereistes – daarvoor het voordat die lisensies uitgereik mag word. Die redes wat aangedui word, moet bevestig word en vergesel gaan van bewyse.

’n Bykomende lisensie vir ’n vuurwapen mag nie meer aan enige persoon woonagtig op die perseel uitgereik word nie, maar slegs aan familielede wat deel van die huishouding uitmaak.

Selfverdediging en privaatversamelaarsdoeleindes word nie meer as geldige redes beskou om vuurwapens te besit nie.

Wanneer daar aansoek gedoen word vir ’n lisensie vir geleentheidsjagter of sportskut, moet die aansoeker oor ’n perseel of eiendom beskik waar die jag- of skietaktiwiteite gaan plaasvind en dit kan bewys. Alternatiewelik moet die aansoek vergesel gaan van ’n toestemmingskrywe van ’n persoon wat so ’n perseel of eiendom besit wat toestemming gee dat die aansoeker daar kan kom skiet of jag. Daar mag slegs vier vuurwapens vir hierdie tipe lisensie in iemand se besit wees.

Waar iemand die status van toegewyde jagter of sportskut het, mag slegs ses vuurwapens hiervoor aangehou word.

Daar word beoog om ’n “Consultative Forum” in die lewe te roep wat onder andere bestaan uit die hoof van die Sentrale Vuurwapenregister en senior personeel van PSiRA (Private Security Regulatory Authority).

Indien ’n vuurwapeneienaar ouer as 21 jaar is (behalwe as daar spesiale goedkeuring verleen is soos hierbo gemeld) en reeds drie jaar ’n vuurwapenlisensie het, mag dié persoon toelaat dat slegs persone ouer as 16 jaar die vuurwapen in sy/haar onmiddellike teenwoordigheid gebruik.

Vuurwapeneienaars word verplig om hul samewerking te gee vir die balistiesemonstertoetse van hul vuurwapen wanneer die Minister dit bepaal. Voorts sal dié toetse ook verpligtend wees indien die vuurwapenlisensie hernu word of die vuurwapen vervreem word. Die eienaar van die vuurwapen waarop die toets gedoen word, word boonop verplig om die ammunisie vir die toets te verskaf.

Lisensies kan nou steeds hernu word, al is dit in ’n korter tyd as die voorgeskrewe 90 dae voor die lisensie verval. Die vereistes is egter dat daar redes aangevoer moet word waarom die lisensie laat is, die lisensie moet nog nie verval het nie, en daar sal ’n boete betaalbaar wees.

Alle lisensies moet elke vyf jaar hernu word, behalwe lisensies vir besigheidsdoeleindes, anders as dié wat in die wildbedryf gebruik word, bv. sekuriteitsmaatskappye, wat elke twee jaar hernu moet word.

Dit is ’n misdryf vir enige persoon om in besit te wees van ammunisieherlaaitoerusting indien hulle nie as ’n ammunisievervaardigers geregistreer is nie. Voorts mag persone met ’n lisensie vir ’n vuurwapen slegs 100 patrone in hul besit hê vir sodanige vuurwapen. Daar kan egter op die voorgeskrewe wyse en met goeie rede aansoek gedoen word om meer patrone te besit.

Die Minister verkry baie eensydige reguleringsbevoegdhede rondom die in- en uitvoer van ammunisie en vuurwapens.

Alhoewel dit lyk of die Wet sigself in ’n mate weerspreek, bepaal die voorgenome wysiging aan artikel 73 van die Wet dat geen vuurwapen of ammunisie sonder ’n vervoerpermit vervoer mag word nie. Dit is nie duidelik of hierdie bepaling van toepassing sal wees op ’n persoon wat reeds oor ’n vuurwapenlisensie vir die vuurwapen en ammunisie wat vervoer word beskik nie.

Die Minister mag van tyd tot tyd aandui hoe sekuriteitsbeamptes hul wapens moet dra.

Indien daar ’n interimbevel ingevolge die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 of die Wet op Beskerming teen Teistering 17 van 2011 teen iemand toegestaan word, waar geweldpleging betrokke is, word dié persoon se vuurwapenlisensie opgeskort hangende die finale afhandeling van die aansoek, en moet die vuurwapens en ammunisie binne 24 uur by die naaste polisiekantoor ingegee word hangende die finale bevel. Indien die bevel bevestig word, word die persoon dadelik onbevoeg bevind om vuurwapens te besit.

Wysigings rondom die samestelling en die doen en late van die appèlraad word beoog.

Wat boedelwapens betref, moet daar aansoek gedoen word vir ’n permit om die boedelwapens te besit hangende die aanstel van die eksekuteur, wat dan beheer oor die boedelwapens kan neem om daarmee te handel in die beredderingsproses – met die voorbehoud dat die vuurwapens op die voorgeskrewe wyse gestoor word.

Alle lisensies wat uitgereik is kragtens vorige vuurwapenwetgewing, waaronder die sogenaamde “groen lisensies”, bly vir twee jaar geldig ná inwerktreding van die wet. Daar moet dan in hierdie tyd aansoek gedoen word vir ’n nuwe lisensie vir die tersaaklike vuurwapens.

Daar is ook bepalings oor die geldigheid van bevoegdheidsertifikate voor en ná die inwerktreding van die Wysigingswet.

Ek sien hoe jy, die leser, nou met ’n abnormaal hoë hartklop, knersende tande en frustrasie die regering verwens – met goeie rede. AfriForum en talle ander organisasies wat jou sentiment en frustrasie deel, het reeds hul hakke ingeslaan. AfriForum sal dié beoogde wetgewing enduit beveg, en sal op gereelde grondslag veldtogte en projekte van stapel stuur om jou belange as wetsgehoorsame vuurwapeneienaar en voornemende vuurwapeneienaar te beskerm.

Soortgelyke plasings