|

Kom hardloop saam met AfriForum Sport, Helpende Hand en die VlokSkop Stigting om jong sporttalent te bemagtig

Vinnig of stadig, jonk of oud, almal is welkom by die #VirHoop-gemeenskapsdag wat AfriForum Sport, Helpende Hand en die VlokSkop Stigting Saterdag by die Voortrekkermonument aanbied. Pretlope word oor afstande van 5 km, 10 km en 15 km aangebied, maar die dag gaan oor veel meer as net lekker draf, stap en kuier. Die drie organisasies vat op dié dag hande om jong sporttalent met min of geen toegang tot hulpbronne te help bemagtig.

“Die doel van die projek is om tekkies en toks aan hoërskoolleerders te skenk wie se ouers dit nie self kan bekostig nie,” verduidelik Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport en Jeug.

“Finansies moet nooit die rede wees hoekom kinders nie aan sport kan deelneem nie. Dis hoekom ons met Helpende Hand en VlokSkop hande vat en wil help om ons jeug geveter en gesool te kry.”

Die publiek word uitgenooi om Saterdag om 07:00 saam te kom draf of loop. Die registrasiefooi is R30. Alle fondse wat op die dag ingesamel word sal aan die Tekkies en Toks-inisiatief van Helpende Hand geskenk word. Deelnemers word verder gevra om ’n ou paar tekkies of toks saam te bring wat aan behoeftige sportmanne en -vroue uitgedeel sal word.

Registrasie is van 06:00 tot 06:45 met die wedloop wat om 07:00 begin. Besoek #VirHoop – Tekkies en Toks – Afriforum Sport om meer uit te vind of om te registreer. Daar is ook ’n skakel op dié webwerf wat ’n mens kan volg om verdere donasies vir die inisiatief te maak.

Soortgelyke plasings