|

Kies selfdoen, sê Dirk Hermann aan Afrikaanse skole

Tydens ’n aanbieding by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Leierskapkongres in Midrand gister, het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ’n pleidooi aan skole gerig om te fokus op selfdoen, eerder as om in staatsafhanklikheid te versink. Hermann se aanbieding het gehandel oor die onderwerp “Hoekom is groter selfstandigheid vir Afrikaanse skole nodig?”

Ter inleiding het hy genoem dat dit nodig is om die groter Suid-Afrikaanse politieke en ideëraamwerk, asook dié van ons eie gemeenskap te verstaan ten einde te weet waar skole hulself moet posisioneer.

Die huidige regering se ideologiese benadering is een van staatsentralisme. Dit hou die sentralisasie van mag in die staat se hande as oplossing voor om gelykheid te bevorder. Dit lei egter tot staatsverslawing en -afhanklikheid van die stelsel. Hoe meer beheer die staat verkry, hoe groter is die plundering wat plaasvind, soos gebeure in die land tans bewys. Daar word gepoog om totale beheer oor mag, middele en mense te verkry. Die draer van die idee, pres. Cyril Ramaphosa, spog daarmee dat 18 miljoen mense in die land tans van permanente staatstoelaes afhanklik is, maar ’n ware prestasie sou na Hermann se mening wees as geen mens so ’n toelaag benodig nie.

Aan die ander kant is daar die benadering van gemeenskapsfederalisme, wat inhou dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hulle welstand en toekoms aanvaar. Dit is die “ons sal self”-benadering wat baie bekend is vir skole. Ter illustrasie het Hermann byvoorbeeld verwys na die vele skoolliedere van Afrikaanse skole wat die klem plaas op harde werk as sleutel tot sukses. Dit bewys dat roepingsbesef nie vreemd is vir die Afrikaanse wêreld nie.

Die stelsel van staatsentralisme stel groot uitdagings aan die Afrikaanse onderwysgemeenskap. Hermann het daarop gewys dat die huidige omstrede rasgebaseerde arbeidsregulasies byvoorbeeld bepaal dat sewe uit elke tien Afrikaanse onderwysers in Gauteng hulle poste sal moet verlaat. Ewe ernstig is die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) wat besluitnemingsmagte oor onder meer die taal- en toelatingsbeleide van skoolgemeenskappe wil wegneem en aan die staat wil oorlaat.

Hierdie bedreigings moet egter nie veroorsaak dat mense gemeenskapskrag onderskat nie. Uit hierdie bron is naskoolse opleidingsinstellings soos Sol-Tech, Akademia, die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) en Bo-Karoo Opleiding gebore en instellings soos die SOS, MOS, die AON en ander ondersoek opsies vir die skep van privaat onderwysinstellings. Die onderrig wat Afrikaanse openbare skole aanbied, kan meeding met die onderrig in die top tien lande ter wêreld. Trouens, voeg Hermann by, vir mense wat sê hulle gaan emigreer ter wille van hulle kinders, wil hy net antwoord dat hulle moet immigreer na ’n Afrikaanse skool toe.

Al hierdie voorbeelde bewys dat om self beheer van jou toekoms te neem, bevrydend is. Daar is uitdagings in ’n omgewing waar die staat verswak, maar dit is beslis doenbaar.

Skole kan begin deur te besluit waar hulle lê op die kontinuum van selfstandigheid wat strek van totale staatsafhanklikheid tot algehele onafhanklikheid. Met kennis van die bedeling waarbinne skole funksioneer, kan hulle druk uitoefen en die stelsel uitdaag om na groter gemeenskapselfstandigheid te beweeg.

Hermann lig vervolgens die tien terreine uit waarop in dié proses gefokus kan word:

  • Waardeaanbod – Waardes is die kern van ons bestaan. Hy verwys na ons Christelike waardes wat aan ons ’n bestaansroeping gee en aan ons ware vryheid bied. Onderwysers moet God in skole hou.
  • Statutêre raamwerk – Met kennis oor leemtes in die bestaande raamwerk, kan dit uitgedaag word om skole meer onafhanklik te laat funksioneer.
  • Fisiese fasiliteite – Skole moet bates teen die staat beskerm. Nuwe fasiliteite wat ontwikkel word, kan byvoorbeeld eerder die eiendom van ’n trust word as staatsbesit.
  • Kurrikulum – Daar is baie speling binne die kurrikulum vir die interpretasie van opdragte en onderwerpe en hierdie ruimte moet benut word.
  • Didaktiese metodes – Onderwysers bly sentraal in die onderrig van die jeug, want ’n onderwyser kan waardes saam met kennis oordra, maar tegnologie nie. Dit maak nie ’n vyand van tegnologie nie, laasgenoemde bly ’n handige en nodige hulpmiddel, maar dit kan nooit onderwysers vervang nie.
  • Beroepsvoorbereiding – Onderwysers moet moeite doen om leerders vir hul loopbane voor te berei. Solidariteit sal in September ’n nuwe platform bekendstel wat handige hulpmiddels in dié verband aan hulle sal bied.
  • Onderwys opleiding – Afrikaanse opleidingsinstellings met ’n gesonde waardepassing soos Akademia en Aros moet ondersteun word.
  • Voortgesette opleiding – Ouer onderwysers moet moeite doen om jongeres te help ontwikkel en ruimte moet geskep word vir lewenslange leer sodat onderwysers meesters op hulle terrein word.
  • Nuut bou – Meer Afrikaners verhuis tans na Pretoria as na die Wes-Kaap. Die Departement vir Basiese Onderrig gaan nie nuwe skole bou nie, dus moet ons self planne maak om dit te doen en vir ons kinders onderrigtuistes te bied.
  • Binding – Vir ’n gemeenskap om te gedy, is die inbinding van sy lede nodig. Vir onderwysers, noem Hermann, bied Solidariteit se Onderwysnetwerk juis ruimte vir sodanige binding.

Ten slotte moet mense self besluit of hulle staatsafhanklik en ’n slaaf van die stelsels daarbinne wil wees, of selfstandig en vry. Die gevolgtrekking waartoe Hermann kom, is dat die toekoms van Suid-Afrika in gemeenskapselfstandigheid lê en daarom doen hy ’n beroep op skole om te verklaar: “Ons sal self”.

Soortgelyke plasings