|

Kempton Park-tak maak terrein by begraafplaas mooi

Die Zuurfontein-begraafplaas in Kempton Park het sowat 13 600 grafte – sommige van dié grafte is reeds vanaf die 1930’s daar. Ten spyte van die grote van dié begraafplaas blyk dit dat die Ekurhuleni Plaaslike Munisipaliteit nie oor die wil beskik om hierdie begraafplaas behoorlik in stand te hou nie. AfriForum se Kempton Park-tak is genoop om self hierdie reusagtige taak aan te pak ten einde te sorg dat dié begraafplaas weer netjies en toeganklik is vir besoekers.

Selfs die Kempton Park-gemeenskap het hand bygesit en gehelp om die terrein weer op te knap. Daar is behoorlik gewerskaf om die plantegroei om die grafstene onder beheer te bring, vullis te verwyder en gras te sny. Die blombeddings is ook gespit en daar is veral aandag geskenk aan die roostuin.

Die Zuurfontein-begraafplaas is die rusplek van talle Kempton Park-inwoners se geliefdes. Volgens Veruska Brits, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak, is dit vir die tak belangrik om te sorg dat hierdie terrein mooi moet wees. “Ons almal sal graag wil hê dat ons geliefdes se finale rusplek skoon en netjies moet wees. Begraafplase moet in stand gehou word sodat dit nie vir mense nóg moeiliker is om hul geliefdes se grafte te besoek nie.”

Maak ’n daadwerklike verskil in jou omgewing by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings