|

Keimoes-tak takel toilette wat geplunder en verwoes is

Die openbare toilette op Keimoes is maande gelede as gevolg van die agteruitgang van die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit, verwoes en gevandaliseer. Dié munisipaliteit se voortdurende versuim om die toilette te herstel en die toestande op die dorp te verbeter, het egter net AfriForum se Keimoes-tak, plaaslike ondernemings en inwoners aangespoor om die toilette weer bruikbaar te maak.

Die afgelope paar maande is die dorp se openbare toilette naby die Waterwiel-monument in ’n haglike toestand gelaat nadat al die waterpype, die stopkraan en toiletbakke gesteel is. Die vensters was boonop ook stukkend geslaan en die knippe gesteel. Die slotte op die deure was beskadig of afgebreek, terwyl al die afvoerpype stukkend gekap en uitgebreek is en die toiletbakke vol stene gepak is. Dit terwyl ontlasting oral op die vloere was.

’n Inwoner op die dorp het AfriForum genader oor die haglike toestand van hierdie toilette en aangebied om die nodige opruimingswerk te doen as die burgerregteorganisasie die broodnodige herstelwerk kan fasiliteer. Die tak het dadelik ingespring en die nodige skoonmaakmiddels en toerusting aangeskaf om die toilette te transformeer.

Die inwoner, Poppie Appie, het self die toilet- en afvoerpype met binnebande reggemaak en water in emmers beskikbaar gestel om die toilette mee te spoel. Intussen het die AfriForum-tak se buurtwag onder leiding van die lid Kobus Pool begin om toilette te vervang en herstel. Die plaaslike Fit-It bandehandelaar het waterpype geskenk en Pool het die nodige stopkraan geskenk om in alle erns die toilette te herstel. Water is aangelê en die stopkraan is geïnstalleer. Drie van die toilette het nuwe bakke gekry en die afvoerpype is vervang. Die toilette kort nog net sitoppervlaktes. Verder is diefwering voor die vensters geïnstalleer en by die deure herstel. Ruite sal op ’n later stadium ingesit word.

“Ons vertrou dat die opknappings aan hierdie toilette mense gaan motiveer om nie net daarvan gebruik te maak sodat die dorp nie so besoedel word nie, maar om ook ’n trots te ontwikkel vir die dorp se infrastruktuur en moeite te doen om dit in ’n goeie toestand agter te laat,” sê Meisie Pool, voorsitter van die AfriForum-tak in Keimoes.

Benewens die openbare toilette wat nou weer in volle werkende toestand is, het die tak ook bome en allerlei soorte plante geplant om die gebied te verfraai. Die AfriForum-buurtwag het ook in samewerking met die plaaslike polisie die stalletjies laat ontruim wat buite die openbare toilette gebruik was as slaapplek. Dit was nie net toegegooi onder vullis nie, maar kwaaddoeners het ook daar vuur gemaak en die gebied vermors. Dié area is nou ’n veilige, skoon en netjiese gebied vir mense om te besoek.

“Die openbare toilette en stalletjies is by die bekende Waterwiel-monument geleë en het altyd soos ’n seeroog uitgestaan nadat dit agteruitgegaan het en onbruikbaar vir toeriste gelaat is. Nou dat hierdie infrastruktuur weer opgeknap en veilig is vir inwoners en toeriste om te besoek, is AfriForum oortuig daarvan dat besoekers graag weer by die Waterwiel-monument sal aangaan en sien dat die gemeenskap en burgerlike organisasies nie sal toelaat dat Keimoes agteruitgaan nie,” sluit Meisie af.

Soortgelyke plasings