Kapings in Brits neem met meer as 240% toe binne tien jaar – AfriForum-buurtwag ontvang gespesialiseerde teenkapingopleiding
Te midde van ’n skerp toename in die aantal kapings in die Brits-polisiëringsgebied, het AfriForum se Brits-buurtwag onlangs gespesialiseerde teenkapingsopleiding ondergaan om inwoners van dié dorp in Noordwes selfs beter teen misdaad te beskerm. Misdaadstatistiek toon dat kapings hier binne tien jaar met meer as 240% toegeneem het – vanaf 9 kapings in 2013/2014 tot 31 in 2022/2023.
Daarteenoor is daar in 2022/2023 slegs 17 kapings in die naburige Hartbeespoortdam-gebied aangemeld.
“Die voorkoms van kapings en veral die toename in die aantal voorvalle in Brits, is rede tot ernstige kommer en vereis daadwerklike optrede. AfriForum se Brits-buurtwag word daagliks met uiteenlopende tipes misdade gekonfronteer, maar gespesialiseerde kennis van hoe om kapings te voorkom, hoe om tydens ’n kapingsituasie op te tree en hoe om slagoffers in die proses by te staan het nou ’n prioriteit geword vir buurtwaglede in dié gebied,” benadruk Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groot-Marico-distrik. Viljoen het die opleidingsessie in Julie aan nagenoeg 15 Brits-buurtwaglede aangebied en lede hiertydens ook bykomende opleiding in patrollieprosedures en -tegnieke gegee.
“Opleiding is van kardinale belang vir ons buurtwagte omdat dit hulle toerus met die nodige kennis en vaardighede om hul pligte doeltreffend én veilig uit te voer. Ons streef daarna om ons gemeenskappe beter te beskerm en deurlopende en gespesialiseerde opleiding bied aan AfriForum se buurtwagte die voorsprong bo misdadigers. Met ons opleiding moet ons heeltyd een stap voor die misdadigers wees,” sê Viljoen.
Volgens Stephan Roos, leier van AfriForum se Brits-buurtwag, beoog dié buurtwag om die opleidingsgeleenthede vir sy lede selfs verder uit te brei en nog vlak 1-opleidingsessies aan te bied waarin buurtwaglede touwys gemaak kan word in onder meer persoonlike beskerming by residensiële eiendomme en krisisbestuur ná ’n skietvoorval tydens ’n patrollie.
Die Julie-opleidingsgeleentheid is by Tempo Office National in Brits aangebied. Roos benadruk dat die ondersteuning wat privaat ondernemings, soos Tempo Office National, aan die buurtwag bied, van onskatbare waarde is en die Brits-gemeenskap sterker maak.
Raak vandag nog betrokke!
Wil jy help om jou buurt te beveilig? Het jy ’n op-en-wakker ingesteldheid, ’n fyn oog vir veiligheid en ’n groot hart vir jou gemeenskap? Dan is dit nou tyd om by AfriForum se Brits-buurtwag aan te sluit. Kontak Stephan Roos (073 188 3223) vir meer inligting.