|

Kammanassie-plaaswag verskerp kerkgemeenskap se veiligheid

Die Kammanassie-plaaswag het besluit om pro-aktief op te tree om die afgeleë gemeenskap van Noll, een van die landelike gebiede rondom George, teen die toenemende voorkoms van gewelddadige aanvalle by kerke te beskerm. Die plaaswag het die afgelope naweek (8 Junie) twee sonkragveiligheidsligte by die NG-kerk op Noll laat installeer om hierdie terrein behoorlik te belig.

“Die sonkragveiligheidsligte maak dit onmoontlik vir misdadigers om sommer ongesiens by die kerk in te glip. Die sonkragveiligheidsligte skyn net so helder soos elektriese ligte en maak dit moontlik vir die inwoners om veilig in die aande rond te beweeg,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Dié plaaswag, wat in Desember verlede jaar op die been gebring is, is volstoom besig om die landelike gemeenskappe rondom George te beveilig. Die plaaswag het vroeër vandeesmaand glimbaadjies, flitsligte asook tweerigtingradio’s ontvang om hul in staat te stel om doeltreffend en pro-aktief teen misdaad op te tree.

Erasmus sê die lede verbonde aan hierdie plaaswag is uiters toegewyd tot die veiligheid van elke inwoner van hierdie landelike gebied omdat hulle self ook boer. “Dit is bemoedigend om te sien hoe gewone mense ’n verskil maak en ’n veiliger toekoms vir al hul geliefdes probeer verseker.”

Raak vandag nog by AfriForum betrokke sodat jy óók jou veiligheid in jou eie hande kan neem. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings