KAKEBEENWA WAT BLOEDRIVIER OORLEEF HET NÓÚ BY DIE VOORTREKKERMONUMENT TE SIEN
Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Danksy samewerking tussen die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), ’n klein plattelandse laerskool en ’n familie wat hul erfenis koester, het die enigste oorblywende kakebeenwa wat die Slag van Bloedrivier oorleef het, nou ’n nuwe tuiste by die Voortrekkermonument gevind.
Dié pronkstuk, wat as die Laas-wa bekend staan, dateer van ongeveer 1826 en is onlangs tydens ’n spogfunksie by die Voortrekkermonument onthul nadat hy vir meer as 80 jaar by Laerskool Amersfoort duskant Ermelo bewaar is.
Die vervaardiger van die wa was moontlik die bekende wamaker van Graaff-Reinet en latere Voortrekkerleier, Gert Maritz (1797-1838), het die Voortrekkermonument in ’n verklaring gesê.
Johannes Andries Marthinus Laas (1812-1884) en sy vrou Sara Johanna (née Odendaal, gebore 1811) het teen die einde van Oktober 1837 as lede van Karel Landman se geselskap by die Groot Trek aangesluit. Hul een kleindogter, Hermina Johanna, het die wa geërf en besluit om dit te skenk aan haar neef se seun, Hendrik Beltsazar Laas. Op sy beurt het hy besluit om die wa aan Laerskool Amersfoort te skenk.
Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum en nasaat van die Laas-familie, het tydens die onthulling verduidelik dat Francois Lotz, agterkleinkind van Johannes Andries Marthinus Laas se jongste dogter, hom vir jare beywer het om vir die wa ’n tuiste te kry waar meer mense die voorreg kon hê om die wa te sien. “Na Francois en sy vrou, Bettie, se ontydige afsterwe in Januarie 2021 is die Laas Voortrekker-familiebond tot stand gebring om Francois se strewe voort te sit. Die familiebond het met die hulp en ondersteuning van die FAK, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting verseker dat die wa gerestoureer kon word en ’n gepaste tuiste kon vind.”
Volgens Annemarie Labuschagne, skoolhoof by Amersfoort, is die skool deur die jare soveel as ’n miljoen rand vir die wa aangebied, maar dit is altyd van die hand gewys omdat sy geglo het dat die wa as erfenisstuk vir Afrikaners behoue moet bly. Sy het egter op een voorwaarde ingestem dat die wa na die Voortrekkermonument geskuif word en dit was dat die beste restoureerder die wa tot sy eertydse glorie moet herstel.
Só het die alombekende prof. Erik Holm, oudhoof van die departement entomologie aan die Universiteit van Pretoria, en meesterwabouer, die Laas-wa weer nuwe lewe gegee.
Forum Nuus het saam met Uys prof. Holm vroeër vanjaar besoek om te sien hoe die Laas-wa se wielbande gekort word. Holm het tydens dié besoek gesê dat die restourering van die Laas-wa sy trotsste projek tot op hede is. “Wat ‘n voorreg om aan só wa te werk en jou hande aan dieselfde hout en yster te sit as wat daardie vakmanne destyds met ongelooflike kundigheid gedoen het.”
Uys, wat ook sekretaris van die Laas Voortrekker-familiebond is, en ander nasate van die Laas-familie het ook die onthulling van die wa by die Voortrekkermonument bygewoon. Hy het tydens die geleentheid gesê dat georganiseerde families, in samewerking met gemeenskapsinstansies, ’n groot bydrae het om te lewer om die volhoubare bewaring en uitbouing van erfenis en kultuur te verseker. “Ek het al nagedink oor of ’n wa of wawiel as simbool nie al te verouderd en uitgedien is nie. As mens daaroor gaan lees is die simboliese betekenis van die ossewa op ’n wapenskild ‘draer van kultuur’, ’n voertuig wat kultuur neem van waar dit is, tot waar dit kan wees. Die Laas Voortrekker-familiebond is ook só ’n voertuig wat wil bydrae om ons familie- en volkserfenis die toekoms in te dra.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het die hoop uitgespreek dat die storie van die Laas-wa Afrikaners opnuut sal inspireer om eienaarskap van hul erfenis te neem. “Waar ’n familie begin om eienaarskap van hul erfenis te neem, word hul nalatenskap lewendig gehou en hul geskiedenis gekoester.”
Hy het ook benadruk hoe belangrik dit is om deur erfenisbewaring vir kinders te leer om trots op hul herkoms te wees. “Ons moet vir ons kinders leer dat dit nie net okei is om ’n Afrikaner te wees nie, maar dat hul boonop ’n trótse Afrikaner mag wees.”