| |

Kaapstad-Noord-buurtwag trek twee inbrekers vas

AfriForum se Kaapstad-Noord-buurtwag het op 8 Augustus twee inbrekers vasgetrek en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig vir arrestasie.

Yolanda Fritz, ’n buurtwaglid, het in die vroeë oggendure ’n oproep van ’n inwoner in Meathstraat ontvang oor ’n inbraak. Fritz het die buurtwag van die insident in kennis gestel en die SAPD gekontak. ’n Saak is oopgemaak, maar die inbreker het ongelukkig weggekom.

Omstreeks 18:00 die middag het dieselfde inwoner weer die buurtwag gekontak en gerapporteer dat daar weer vermeende inbrekers in haar erf is. Die buurtwag het die plaaslike sekuriteitsmaatskappye, Civil Defence Force (CDF Security) en Basset Sekuriteit, gekontak vir hulp. Daarna het die buurtwag en die SAPD hul dadelik na die toneel gehaas. Met hul aankoms daar het die buurtwag en die sekuriteitsmaatskappye die perseel deursoek, en een persoon is gearresteer.

“Terwyl ons nog op dié toneel was, het ek ’n oproep oor ’n inbraak by die Herbert Street Special School in Bellville ontvang. Die sekuriteitsmaatskappye het op die toneel by die vermeende inbreker agtergebly terwyl die buurtwag na die skool vertrek het. Met ons aankoms kon ons sien dat daar ingebreek is en hoe twee inbrekers weghardloop. Een van die verdagtes is vasgetrek en gesteelde goedere is aan hom gekry. Ongelukkig het die tweede verdagte tussen die taxi’s weggeraak,” sê Fritz.

“Die afgelope tyd loop die skool erg onder misdaad deur, soveel so dat AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, in samewerking met JP Muller van COBRA Self-Defense, vir die onderwysers klasse in selfverdediging aangebied het. Hopelik het die arrestasie van die twee inbrekers die boodskap duidelik gestuur dat ons nie misdaad in ons area sal duld nie en dat misdadigers vasgevat sal word. Ons wil graag Basset Sekuriteit en CDF Security bedank vir hulle hulp en vinnige optrede,” sluit Fritz af. 

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om te help om hul omgewing te beveilig. Kontak Johan Fritz by 081 853 7451 om by die Kaapstad-Noord-buurtwag of -tak aan te sluit.