|

Internasionale howe – hoe werk dit?

AfriForum kry dikwels navrae oor die rede waarom ons nie sake by “die Wêreldhof” maak teen die regering se onvermoë om misdaad hok te slaan, korrupsie, en allerlei ander kwessies nie. Met die regering se klag teen Israel is dit voorstelle wat weer in die kommentaar by nuusberigte op verskeie platforms voorkom. Dikwels weet mense nie dat daar twee internasionale howe in Den Haag, Nederland, is en wat hulle werksaamhede behels nie.

Die Internasionale Strafhof

Die hof wat waarskynlik die meeste mediadekking kry, is die Internasionale Strafhof. In Engels staan dit as die International Criminal Court bekend. Soos die naam aandui, is dit ’n hof met aanklaers wat verhore teen individue hanteer. Dit fokus op vier soorte misdaad wat deur die internasionale gemeenskap as die ernstigste vergrype beskou word, naamlik volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en die misdaad van aggressie. Laasgenoemde vind plaas wanneer ’n gewapende mag deur ’n staat gebruik word om die soewereiniteit, integriteit of onafhanklikheid van ’n ander staat te bedreig.

Dit is nie ’n organisasie van die Verenigde Nasies (VN) nie, maar die hof het wel ’n samewerkingsooreenkoms met die VN. Die handelinge van die hof word gereguleer deur ’n internasionale verdrag, die Statuut van Rome. Lande wat hierdie verdrag aanvaar het, word by die hof se jurisdiksie ingesluit. Dit sluit tans nog Suid-Afrika in, maar jare lank al probeer die ANC-regering hieruit onttrek. Dit volg ná die regering in 2015 tydens die omstrede Soedannese president, Omar al-Bashir, se besoek aan Suid-Afrika, hom nie in hegtenis geneem en aan die strafhof uitgelewer het, soos wat dit volgens die bepalings van die statuut verplig was om te doen nie. Hierdie proses sleep nog voort en word deur Suid-Afrikaanse opposisiepartye teengestaan.

Die Internasionale Strafhof noem homself ’n laaste uitweg. Die doel daarvan is nie om nasionale howe te vervang nie, maar om hulle regspraak aan te vul as dit nie oplossings vir slagoffers bied nie. Met ander woorde as een van hierdie tipes misdaad gepleeg is en die howe in die land waarin dit plaasgevind het, nie die saak na behore hanteer het nie, kan die Internasionale Strafhof versoek word om die aanklagte teen die beskuldigde te ondersoek. Hierdie ondersoeke kan jare lank duur en lei nie noodwendig tot ’n verhoor nie. Daar was egter al verskeie belangrike sake en deurslaggewende uitsprake wat deur die hof gelewer is.

Klagtes kan net by die hof ingedien word as die misdade waaroor dit gaan, op of na 1 Julie 2002 gepleeg is. Ouer sake word nie oorweeg nie. In sekere gevalle kan sake ook deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad (VNSC) na die Internasionale Strafhof se aanklaer verwys word. Die aanklaer kan selfs op eie inisiatief ’n saak ondersoek.

Die hof beskik nie oor eie polisie of afdwingingsmagte nie, maar is afhanklik van die samewerking van deelnemende lande, veral om arrestasies te maak, die gearresteerdes na die hof se aanhoudingsentrum in Den Haag te neem, verdagtes se bates te bevries en vonnisse af te dwing. Dit is juis hier waar die ANC-regering se botsing met die hof in die Al-Bashir-saak begin het.

Dit het tans meer as 900 personeellede wat uit ongeveer 100 lande (insluitend Suid-Afrika) afkomstig is en het ses amptelike tale. Volgens die hof se webtuiste was die 2023-begroting 169 649 200 euro.

Beskuldigdes word as onskuldig beskou totdat hulle skuldig bewys is. Soos in enige strafsaak, is dit die plig van die aanklaer om hulle skuld te bewys.

Sedert die ontstaan daarvan in 2002, het die hof slegs 52 mense aangekla. Van hulle is 20 sake nog nie afgehandel nie, twee persone dien vonnisse uit, sewe het hulle straf klaar uitgedien, vier is vrygespreek en agt is oorlede voordat die sake teen hulle afgehandel kon word. In die res van die gevalle is die klagtes teruggetrek.

Al is dit dus ’n hof van laaste uitweg, bied dit beslis nie kitsoplossings aan nie en is dit nie ’n instelling wat algehele staatsverval kan aanspreek nie.

Die Internasionale Geregshof

Hierdie hof staan in die volksmond as die Wêreldhof bekend en is die instelling wat die Suid-Afrikaanse regering se klag teen Israel aanhoor.

Dit is die vernaamste regsorgaan van die Verenigde Nasies en is in 1945 in San Francisco gestig. Waar die Internasionale Strafhof ter nakoming van bepalings van die Statuut van Rome ontstaan het, is die Internasionale Geregshof ’n uitvloeisel van die Verenigde Nasies se Handves. Vanaf 1946 het die Internasionale Geregshof met sy werksaamhede in die Vredespaleis in Den Haag begin.

Slegs state kan klagtes teen ander state by die hof indien en dan meer spesifiek, lande wat lid van die Verenigde Nasies is. Die hof het geen aanklaer nie, maar wel 15 regters met ’n tweeledige rol, naamlik om regsgeskille tussen state ooreenkomstig die internasionale reg te besleg en om menings te gee oor regsaangeleenthede wat organe van die VN en gespesialiseerde agentskappe aan die hof voorlê.

Die Internasionale Geregshof gee dus nie aandag aan klagtes of versoeke om advies van individue, nieregeringsorganisasies, korporasies of enige ander private entiteite nie en dit het ook geen jurisdiksie om individue te verhoor nie.

Die saak van die Suid-Afrikaanse regering teen Israel is die 192ste saak wat die hof hanteer. Sake wat in die verlede reeds afgehandel is, het gehandel oor kwessies soos dispute oor grondgebied, eienaarskap van bates, een land se optrede teenoor die burgers van ’n ander in sy grondgebied en skendings van lugruim- of seegebiedgrense.

Gevolgtrekking

Mense verwys maklik na “die Wêreldhof”, wat in die geval van die Internasionale Geregshof van toepassing is, maar omdat die twee howe se aard en werksaamhede so wyd verskil, is dit beter om van die Internasionale Strafhof en Internasionale Geregshof te praat. Hopelik help die bostaande uiteensettings ook om duidelik te maak wat hulle werksaamhede behels en in watter gevalle die een of die ander mag optree.

Soortgelyke plasings