|

INGENIEUR HERONTDEK KUNSTALENT TYDENS INPERKING

Deur Alet Rademeyer

Die COVID-19-pandemie en die gepaardgaande staat van inperking het Suid-Afrikaners die afgelope jaar op baie maniere beïnvloed.

Baie mense is in die krisistyd hard getref weens werkverliese of ondernemings wat hul deure moes sluit.

Dries du Toit (64), ’n meganiese ingenieur van Boksburg, is een van duisende slagoffers. Sy fabriek se deure moes weens die swak ekonomie sluit.

Tydens die inperking het hy egter nie gaan lê nie en sommer vir die pret sketse van verskeie Boeregeneraals en Afrikanerleiers begin maak.

Hy het ook onder meer sketse van AfriForum en Solidariteit se bestuurslui gemaak.

“Ek het van jongs af geteken, maar ek was nie eintlik lief daarvoor nie. Dit was altyd maar meer van ’n uitdaging vir my.”

Volgens Du Toit het hy al hier en daar met skilderye geëksperimenteer. Hy het onder meer sy hand aan pirografie gewaag nadat sy swaer hom uitgedaag het.  Pirografie is die oudste vorm van skilder en word ook genoem houtbrand-kuns.

Du Toit het meer as twintig skilderye van diere met sy soldeerbout op leer gemaak. Hy het omtrent almal as geskenke weggegee.

“Daar het omtrent 30 jaar verloop voordat ek in lockdown sketse van my familie begin maak het. Hoe meer ek gemaak het, hoe beter het dit begin gegaan.”

Du Toit het nou reeds ’n paar opdragwerke gekry, maar bieg dat hy maar “sukkel om geld vir my talent” te vra. “Ek het nooit gedink dat ek soveel tyd en aandag aan sketse sal begin gee nie. Ek was maar altyd net met meganiese tekeninge besig.”

Mense wat Du Toit se sketse sien, is baie beïndruk.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, sê die sketse is baie lewensgetrou. “Du Toit slaag daarin om uitdrukking in mense se oë te sit en hul gelaatstrekke op ’n besonderse manier vas te vang.”

Volgens Du Toit is hy nie op abstrakte kuns ingestel nie. “As ek ’n boom teken of skilder, moet dit soos een lyk.”

Dit neem hom omtrent vyf ure om ’n gesig te skets. “Ek probeer altyd dat die skets so realisties moontlik moet wees en so naby moontlik na die ware Jakob moet lyk. Dit verg nogal baie konsentrasie en ek ‘kuier’ behoorlik met ’n gesig voor ek klaar is.”

Soortgelyke plasings