|

Huisarres en gemeenskapsdiens vir tiener wat man se dood veroorsaak

Patrick Jewell se dogter voel dat die strafregstelsel hulle in die steek gelaat het en sy is geskok en teleurgesteld oor die sagte vonnis wat die tiener opgelê is wat haar pa se dood veroorsaak het. Die Brits-landdroshof het vandag, byna drie jaar ná die ongeluk wat Jewell se lewe geëis het, vir Kgaugelo Masenya tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis het, hy sal dié drie jaar onder huisarres deurbring. Masenya moet ook 176 ure gemeenskapsdiens per maand doen by die Polokwane Provinsiale Hospitaal.

Die saak sou egter nie so ver gevorder het as dit nie was vir die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat Jewell se dogter, Jacky, gehelp het nie. Die privaatvervolgingseenheid het gesorg dat die saak behoorlik ondersoek word en ter rolle geplaas word. Die tienerseun se pa is ’n kaptein in die SAPD se beskermingseenheid. Daar word vermoed dat die saak nie behoorlik ondersoek is nie weens polisie-inmenging om een van hulle kollegas te beskerm.

Masenya (19) het in Mei vanjaar skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur omdat hy die ongeluk veroorsaak het wat gelei het tot die 65-jarige se dood. Jewell is drie weke ná die ongeluk, wat op 21 September 2021 plaasgevind het, oorlede.

Landdros Elna Moolman het gesê hoewel sy die misdaad as baie ernstig beskou, is sy ook bedag op die feit dat Masenya ten tyde van die voorval 16-jaar oud was. Moolman het die punt deurgevoer dat ’n man sy lewe verloor het weens Masenya se optrede en dat sy nie kan ignoreer waardeur Jewell se familie is nie. Sy het haar hoop uitgespreek dat die familie berusting sal vind in die vonnis wat opgelê is.

Jacky meen egter dat die drie-jaar vonnis nie pas by die oortreding nie. “Uiteindelik, ná drie jaar, sal sy vonnis verby wees. Ek voel nie dit is genoeg nie, maar volgens die regstelsel is dit wat hy verdien. Ek wil vir AfriForum bedank dat hulle elke stap van die proses saam met my was en ek hoop hulle kan in nog baie ander sake help en die sake wen om mense te help. Hoewel ek voel dat die strafregstelsel ons in die steek gelaat het weet ek dat die saak bloot tot niet sou gaan as dit nie was vir AfriForum se ingryping nie.”

As deel van die vonnisproses het die privaatvervolgingseenheid ’n privaat saakvoorbereidingsbeampte Karen Tewson genader om ’n slagofferimpakverslag voor te berei. “Karen het my so baie deur alles gehelp. Sy het na my geluister. Die slagofferimpakverslag is daar om mense soos ons by te staan wat deur sulke goed moet gaan en ’n verklaring moet opstel oor hoe groot impak dit op ons lewens gemaak het,” voeg Jacky by.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dat die gesloer om sake op te los net daartoe lei dat slagoffers en hul geliefdes se trauma uitgerek word. “Hoewel ons verlig is dat Jacky hierdie proses agter haar kan sit, het die drie jaar wat dit geneem het om hierdie saak te finaliseer vir haar en haar familie addisionele seer besorg. Die gesloer met hierdie saak het ook ’n impak op die beskuldigde gehad, en ons ondersteun Jacky se hoop dat hierdie vonnis vir Masenya ’n les sal wees en dat hy uiteindelik sal grootword en ’n rolmodel vir ander wees,” sê Bateman.

Soortgelyke plasings