Hou aan met taallitigasie en aktivisme vir Afrikaans se voortbestaan
Deur Alet Rademeyer
Aktivisme en taallitigasie is instrumente wat die Afrikaanse taalgemeenskap mee moet volhou ter beskerming en bevordering van Afrikaans.
Dit is die kerngevolgtrekking waartoe vandag by ’n blitskonferensie van AfriForum oor Afrikaans in Centurion gekom is.
Verskeie kundiges het voorleggings gemaak by die konferensie wat gehou is in die lig van die onlangse Kovsie-uitspraak en ontwikkelings by Hoërskool Overvaal in Vereeniging.
Prof. Hennie Strydom, kenner in internasionale reg by die Universiteit van Johannesburg (UJ), het verwys na die internasionale opsies wat beskikbaar is taalregtebeskerming.
Hy het gesê in die lig van ontwikkelings in die tersiêre sektor in die land, was die tyd nog nooit so ryp vir die stigting van privaat universiteite nie.
Strydom het gewys op die pligte wat die staat het om respek vir die internasionale plek van taalregte as ’n mensereg te hê, sowel as om verdraagsaamheid vir kulturele en linguistiese diversiteit te bevorder. Die staat moet ook wetgewende en ander maatreëls in plek hê vir die beskerming van taalregte ooreenkomstig ’n duidelike raamwerk vir standaarde en optrede. Die staat het ook ’n plig om taalregte ooreenkomstig die beginsel van proporsionaliteit toe te pas in die gebruik van tale deur die owerheid.
Volgens Strydom word die beginsel van menswaardigheid gekoppel aan taalregbeskerming en gemeenskappe kan hul op grond hiervan beroep op die VN-verdrag oor burgerlike en politieke regte wat deur Suid-Afrika onderteken is.
Strydom het verduidelik dat gemeenskappe hul tot internasionale remedies kan wend vir die beskerming van hul taal mits plaaslike remedies soos litigasie uitgeput is. In die geval van Suid-Afrika is daar reeds in 2016 deur AfriForum en ander ’n klag by die VN-komitee ingedien omdat nasionale wetgewing nie in al die tale beskikbaar is nie.
Strydom sê die Suid-Afrikaanse regering moet nog tot die besef kom dat die verwaarlosing van sekere gemeenskappe tot ’n kruitvat-situasie en konflik kan lei.
Prof. Theo du Plessis, hoogleraar in talbestuur en direkteur van die eenheid vir taalfasilitering en bemagtiging by die Universiteit van die Vrystaat (UV), het gewys op die belangrikheid dat taalgemeenskappe moet voortgaan met litigasie om hul taalregte op te eis. “Daar kan egter nie alleen op litigasie staatgemaak word nie. Taalaktivisme moet ook bedryf word as daar ’n wetlike basis daarvoor is.”
Prof. Elirea Bornman, verbonde aan Unisa, het gewys op hoe moedertaalonderrig taal- en selfs landstrots bevorder. “Om in Afrikaans te studeer, bevorder nasiebou en studente wat in Afrikaans by Unisa studeer, voel dat hulle selfs dieper wortels met die land en sy mense het.”
Voorts het studente by Unisa wat in Afrikaans studeer, aangedui dat hulle beduidend minder daarin belangstel om te emigreer.
Adv. Albert Lamey, regsgeleerde het oor Afrikaans as wetenskapstaal gepraat met spesifieke verwysing na die mediese professie.
Lamey het gefokus op die belangrikheid van onderrig in ’n taal soos Afrikaans om uiteindelik ’n gemeenskap te kan dien. As voorbeeld het hy gewys op die benadeling van pasiënte en hul regte as hulle byvoorbeeld in Engels bedien word terwyl hulle nie die mediese terme of verduidelikings verstaan nie. Dit terwyl Afrikaans as akademiese taal in die mediese beroep reeds ten volle ontwikkel is.