Hopefield-plaaswag slaggereed om veldbrande te bestry ná opleiding
Die AfriForum-plaaswag in Hopefield het opleiding in veldbrandbestryding en -beheer gekry, nadat daar ’n nood vir dié tipe opleiding in die gemeenskap ontstaan het toe ’n brand onlangs uitbreek. Tydens dié voorval het daar onsekerheid geheers oor hoe om die brand te hanteer waarna AfriForum die Saldanha-brandweer om hulp met opleiding in hierdie verband genader het.
Die brandweer het die opleiding op 21 November aan die AfriForum-plaaswaglede, sowel as aan boere en plaaswerkers in die gemeenskap, aangebied.
Volgens Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, het die brandseisoen vanjaar vroeg in die Wes-Kaap aangebreek. “Daar moes al vroeg in Oktober brande bestry word. Die klimaatsverandering maak dit moeilik en daar moet gereeld aanpassings gemaak word vir hierdie taak. Die Kaapse dokter (suidoostewind) kan dinge maklik laat skeefloop; terwyl die brand bestry word, kan die wind vir dae sterk waai en ’n paar keer sy rigting verander – kort voor lank het ’n klein brand handuit geruk wat vir dae en selfs weke kan voortduur,” sê Crous.
“Danksy die Saldanha-brandweer se opleiding, is ons nou beter voorbereid op die bestryding en beheer van veldbrande. Dit wys net weereens hoe die gemeenskap en plaaslike regering onderling mekaar bystaan en groter suksesse saam kan bereik. Ons is bevoorreg om sulke goeie samewerking met die Weskus- en Saldanha-munisipaliteit te kan geniet,” sê Eugene Smit van AfriForum se Hopefield-plaaswag.
Indien enigiemand by AfriForum in dié omgewing se projekte wil betrokke raak, kontak Sidney Monk, voorsitter van AfriForum se Weskus-tak in Langebaan, by 079 168 8383 of stuur ’n e-pos na voorsitter.weskus@afriforumtak.co.za.