Hoop, positiwiteit en balans belig by SOS-onderwyskongres
Ouers moet hul denkraamwerk teenoor skolesport verander. Hul toksiese ingesteldheid rondom dit kan té maklik aan hul kinders oorgedra word.
Met dié boodskap het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skole Ondersteuningsentrum (SOS), die noodsaaklikheid van ’n gesonde balans in skolesport by die SOS-kongres beklemtoon. Brink, wat al byna 19 jaar skolerugby afrig en destyds by Pretoria Boys High School skoolgehou het, het gesê ouers en onderwysers moet hulself opnuut afvra hoekom kinders aan sport deelneem.
Hy het vyf mites uitgelig wat ouers dikwels glo, maar wat sport moontlik toksies vir kinders kan maak.
Die eerste mite is wanneer jou kind talent het, dit outomaties beteken dat hy of sy gaan presteer. Volgens Brink het ’n kind baie meer as net talent nodig om te presteer. “Dit is sinneloos dat ’n kind ’n talent het, maar dit word nie op die regte manier ontgin nie.”
Die tweede mite is dat hommeltuig-ouers tot presterende kinders kan lei. Brink vertel dat hy en sy vrou, Lise, probeer om nie goed vir hul kinders te doen wat hul eintlik self kan of moet doen nie. “Natuurlik moet ons as ouers en onderwysers kinders help en bystaan, maar kinders móét leer om self verantwoordelikheid te neem en onafhanklik te word.”
Die derde mite volgens Brink is dat passie gelyk is aan prestasie. “Passie is gelyk aan harde werk. Deur tyd en moeite aan iets te bestee, ontdek jy jou passie daarvoor.”
Die vierde mite wat baie ouers glo, is dat alles wat verkeerd gaan iemand anders se skuld is. Volgens Brink is dit belangrik dat kinders nie ’n eksterne lokus van kontrole het nie, maar eerder geleer word om hulself te verbeter. Die laaste mite is dat ouers dikwels glo hul kinders gaan ’n professionele sportman word, terwyl slegs een uit elke 3 630 kinders professionele atlete word.
“Ons sien ook dikwels hoe ouers die afrigters se oordeel in twyfel trek, krities is teenoor hul eie kind én sy of haar medespelers, of skreeu op die skeidsregter. Só word sport ‘n gif eerder as ’n vitamien vir kinders.”
Brink meen dit is belangrik dat ouers ‘n balans tussen ondersteunend en uitdagend vind. “Middelmatigheid moet nie aanvaarbaar wees nie. Ouers moet hul kinders aanmoedig om hard te oefen en hul beste moontlike spel te lewer. As die kind sy beste gedoen het, moet die telbord nie saak maak nie.”
Sport is egter ’n vitamien wanneer kinders positiewe aspekte van sport leer wat deurgetrek kan word tot hul alledaagse lewe. “Wanneer jou kinders leer hoe om vas te byt, hard te werk, hul passies te ontdek en vir ’n hoër doel as wen deel te neem, het dit ’n vitamien eerder as ’n gif geword. En kinders verdien ’n vitamien-belaaide sport,” meen hy.
Dr. Igno van Niekerk, ’n leierskapspreker en fotograaf, het tydens die kongres gesels oor die “onsigbare sillabus van hoop” wat onderwysers aan leerlinge moet oordra. Volgens hom is onderwysers hoopskeppers wat dikwels die belangrikheid van die klein verskille wat hulle in kinders se lewens maak, onderskat. “Deur iemand te help, het jy dalk nie die hele wêreld verander nie, maar jy het dáárdie kind se hele wêreld verander.”
Volgens van Niekerk skep onderwysers hoop deur te leer, voluit te leef, lief te hê en ’n nalatenskap te los. Hy het ook daarop gewys dat onderwysers se reaksies dikwels kinders se gemoed beïnvloed en meen onderwysers moet energie en passie aan hul leerlinge oordra. “Wat ons wys en uitleef, is belangriker as wat ons sê. Google kan vir kinders kennis vir hulle werk gee, maar jy as onderwyser moet vir hulle passie vir hulle werk gee.”
Van Niekerk het ook die verskil tussen geluk en sukses uitgewys en gevra of dit belangriker is om uiters suksesvolle of uiters gelukkige leerlinge te hê.
Dr. Anton Prinsloo, hoof van Hoërskool Eldoraigne in Centurion, het gepraat oor die belangrikheid van droom en doelgerigtheid in onderwys. Hy het gesê dat dit vir elke mens belangrik moet wees om hul “hoekom?” in die lewe te vind.
“Jy moet glo in jou eie storie en droom. Kinders in jou klas het dalk ’n droom wat stadig verpletter word omdat daar vir hulle daagliks gesê word dat hulle nie goed genoeg is nie. Om in die toptien te wees, beteken nie outomaties dat jy ’n suksesvolle loopbaan gaan hê nie. Jy moet egter weet wat jou doel is en wat jou vlam aansteek.”