|

Hommeltuie ingespan om ysterpenlokvalle te stuit

Ysterpenlokvalle het die afgelope jare skerp toegeneem en motoriste wat veral snags reis, het al slagoffers van dié misdaad geword.

AfriForum se buurtwagte patrolleer gereeld brandpunte om hierdie misdaad hok te slaan en die organisasie se Mpumalanga-buurtwagte het vandeesmaand hul fokus verskerp om misdaad soos kapings en lokvalle op snelweë te ontmoedig. AfriForum-buurtwagte in samewerking met hul lugvleuels het gisteraand langs die N12 buite Delmas ’n veiligheidsoperasie gehou om hierdie misdadigers vas te trek en sigbaarheid te verhoog.

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het tydens hierdie operasie saam met die organisasie se Kempton Park-, Benoni-, Middelburg-, Secunda- en Ermelo-buurtwag, asook AfriForum se Mpumalanga-lugvleuel gewerk. Altesaam ses hommeltuie is gelyktydig ingespan om misdadigers vanuit die lug op te spoor.

Hierdie goed georganiseerde optrede het verder ook uit mediese beamptes en drie reaksiespanne, waarvan 12 protospanlede is, bestaan. Polisielede was ook op ’n gereedheidsgrondslag sodat hulle kan optree sodra hulle hulp ingeroep word.

Volgens Paul van der Merwe, die Delmas Valke se protospanleier, vind die ysterpenlokvalle nou al vir die afgelope drie jaar in hulle omgewing plaas. Die voorvalle het al hoe meer voorgekom en soms word tot drie of vier motors gelyk geteiken waarna die insittendes dan geroof word. Misdadigers wat vir die aanvalle verantwoordelik is, is uiters gevaarlik en hulle skroom ook nie om te skiet nie.

“Hierdie voorvalle gaan nie altyd gepaard met ysterpenne of skerp voorwerpe in die pad nie, maar die misdadigers het ook al klippe in die pad gepak. Hulle sak dan gewoonlik toe sodra motoriste langs die pad stilhou om ’n pap band te ruil,” sê Van der Merwe.

Volgens hom slaan die misdadigers nou op verskeie plekke toe en dui die polisie se inligting daarop dat die misdadigers meer geword het. “Ons hoop om hierdie misdadigers vas te trek voordat hulle na nog areas in die omgewing uitbrei.”

Met die toename in ysterpenlokvalle het AfriForum vroeër vanjaar sy opleiding aan die meer as 165 buurtwagte uitgebrei sodat buurtwaglede ook nou toegerus is om hierdie voorvalle en tonele reg te benader en te hanteer.

Alhoewel geen misdadigers gister vasgetrek is nie, sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, dat hierdie soort operasies gereeld gaan plaasvind om motoriste veilig te hou en die misdadigers aan te keer.

“Dié veiligheidsoperasie is net nóg ’n manier waarop AfriForum na die veiligheid van ander omsien. Dit is een van die moontlike oplossings vir hierdie veiligheidskwessie en AfriForum se buurtwagte sal, binne die raamwerk van die wet, alles in die stryd werp om misdaad hok te slaan.”

Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, het die ander dorpe se buurtwaglede vir hul samewerking bedank en ook gesê dat hulle nie sal ophou om teen die vlaag misdaad op die hoofweë en die ysterpenlokvalle te baklei nie. “Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons die bendes vastrek wat hiervoor verantwoordelik is,” sê Botha.

* Onthou hierdie veiligheidswenke wanneer jy op van die brandpuntroetes ry:

  • Moet onder géén omstandighede die motor stop ná ’n insident waarin die voertuig se bande, voorruit of ander onderdele beskadig is nie. Hou sover moontlik aan met ry tot by ’n veilige bestemming.
  • Kontak jou plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappy of nooddiens so gou moontlik en stel hulle in kennis van die voorval. Gee volledige besonderhede rakende die adres of ligging van die voorval en die voorwerp wat in die lokval gebruik is. Dit sal aanvalle op motoriste wat moontlik ná jou op dieselfde manier geteiken word, kan voorkom.
  • Maak seker jou selfoon is gelaai voordat jy die pad aandurf.
  • Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer jy alleen reis.
  • Wees paraat en kom in die gewoonte om vooruit in die pad te kyk om sodoende enige bedreigings, vreemde voorwerpe of mense op of langs die pad betyds raak te sien.
  • Stoor die kontaknommers van die nooddienste, buurtwag of sekuriteitsmaatskappy op jou foon.
  • Oorweeg dit om ’n nooddienstoeppassing, soos die AfriForum 911-paniekknoppie-toepassing, op jou foon te installeer. Dié toepassing is gratis beskikbaar op Google Play Store (vir Android-toestelle) en op App Store (vir iOS-toestelle).

Soortgelyke plasings