|

HOE BEREI MENS VOOR VIR DIE DINK OF SINK- ONVOORBEREIDE SKOLEDEBATKOMPETISIE

Deur Ianthe Sipsma

Op skool word leerders oorweldig met ’n magdom verskillende aktiwiteite. Sekere aktiwiteite soos sport maak jou fikser en miskien bietjie maerder, ander aktiwiteite help jou dalk om die volgende Beyoncé te wees. Daar is wel niks wat jou so op jou voete laat dink, selfvertroue gee en slimmer maak soos onvoorbereide debat nie. Die beste deel is dat dit geen voorbereiding vereis nie, geen lang maande en laat aande nie. Jy daag op, neem deel en gaan slaap lekker daarna – dit was altyd my gunsteling deel.

Onvoorbereide debat was altyd ’n geleentheid vir my om meer te leer. Die onderwerpe dwing jou om vernuwend te dink, veral omdat jy ’n kant kies nog voor jy weet wat die onderwerp is. Dit is baie uitdagend om vir of teen ’n onderwerp te praat waarmee jy glad nie saamstem nie of wel mee saamstem. Onvoorbereide debat is die een aktiwiteit op skool wat jou ’n vaardigheid aanleer wat jy vir die res van jou lewe sal kan gebruik. Om op jou voete te kan dink, vinnig ’n argument voor te berei en om met die wêreldse selfvertroue jou punt oor te dra, is van onskatbare waarde.

Na skool het ek as debatafrigter by hoërskole betrokke geraak. Ek het 10 stappe opgestel om die jong debatteerders voor te berei vir onvoorbereide debat.

Stap 1: Die loting

Dink of Sink maak gebruik van dobbelstene wat bestaan uit die simbole van ’n skêr, klip en papier. Die kapteins van die twee debatspanne moet die dobbelstene gooi om te bepaal of hulle inleidend of opponerend wil praat. Onthou skêr wen papier, papier wen klip en klip wen skêr.

Stap 2: Inleidend of opponerend

Die span wat die loting gewen het, kan bepaal of hulle inleidend of opponerend wil praat, dit wil sê vir of teen die onderwerp. Die leerders moet onthou dat hulle ’n kant kies voordat die onderwerp bekendgemaak word. As die beoordelaars vir die spanne kyk, sit die inleidende span aan die linkerkant en die opponerende span aan die regterkant.

Stap 3: Kry die onderwerp

Die voorsitter in die lokaal gaan vir die eerste keer die onderwerp lees.

Stap 4: Vyf minute voorbereidingstyd begin

Direk nadat die voorsitter die onderwerp gelees het, begin die vyf minute voorbereidingstyd. Jy het reg gelees, slegs vyf minute om voor te berei.

Stap 5: Verstaan ons die onderwerp?

As die vyf minute voorbereidingstyd begin, vra vir mekaar: verstaan ons die onderwerp? Maak seker dat elke spreker elke woord in die onderwerp verstaan. Dit verhoed dat die debatgesprek nie oor ’n woorddispuut gaan nie, maar eerder oor die onderwerp as geheel. Verstaan presies wat die onderwerp vra.

Stap 6: Besluit op drie individuele argumente

Noudat die span die onderwerp verstaan, moet elke spreker ’n individuele argument uiteensit. Maak seker dat jy en jou spanmaat nie oor dieselfde argument praat nie. ’n Goeie debatspan het drie verskillende en individuele argumente.

Stap 7: Skryf jou toespraak

Gebruik die oorblywende tyd om jou toespraak te skryf. Maak seker dat jy ’n inleiding, argument en ’n slot het. Geen onderwerpontleding is nodig nie.

Stap 8: Praat

Elke spreker gaan die geleentheid kry om te praat. Die inleidende span se eerste spreker gaan begin, dan die opponerende span se eerste spreker en so volg die leerders opmekaar. Elke spreker het 02:30 minute om hulle toespraak te lewer.

Stap 9: Kruisverhoor
Na elke leerder se spreekbeurt, gaan daar ’n sewe minute debatgesprek wees. Die opponerende span sal die eerste vraag mag vra en daarna is dit ’n oop debatgesprek.
Stap 10: Vrae en antwoorde

Maak seker in die kruisverhoor dat daar vrae gevra word en antwoorde gegee word. Om ’n stelling te maak, is nie ’n vraag of ’n antwoord nie en verhoed dat die debatgesprek vloei.

Volg die 10 stappe as voorbereiding en kom praat ’n hond uit ’n bos uit by hierdie jaar se Dink of Sink- virtuele skoledebatkompetisie.

Besoek www.dinkofsink.co.za of stuur ’n e-pos aan Nicolene Müller by nicolene.muller@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings