|

Hierdie interessante feite oor Afrikaans in boek vervat

Afrikaans vier volgende jaar 100 jaar as ’n amptelike taal en groot feesvieringe word oor die land heen beplan om hierdie spesiale geleentheid te herdenk. Cules Hammann het dit egter goedgedink om Afrikaans met die uitreik van die boek Afrikaans Pêrel van Groot Waarde te vier. Hierdie besonderse boek neem die leser op ’n reis vanwaar alles begin het, tot waar die Bybel in Afrikaans vertaal is en tot waar die kleurrykste digkuns ’n plek in die mooiste taal gevind het.

Die ontstaan van Afrikaans is al deur verskeie skrywers vertel en Hammann probeer nie om die spreekwoordelike wiel te herontwerp nie, maar vertel kortliks hoe die interaksies tussen die Nederlanders en die Khoi-Khoin die noodsaak geskep het vir woorde om oor en weer geleer te word sodat daar gekommunikeer kan word. In dié proses is nuwe woorde ook geskep en dit alles vóór Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het.

’n Interessante afdeling van die boek word gewy aan die oorsprong van sekere Afrikaanse woorde. Roesemoes (onordelike drukte en rumoer) kom byvoorbeeld van die Nederlands roezemoes wat in die 16de eeu sy verskyning in dié taal gemaak het. Sosatie kom op sy beurt dalk van Maleis-Javaans se sesateh of sateh en swaap van die Duitse woord schwabe, wat ’n inwoner van die hertogdom Swabe was, wat onder landsgenote bekend gestaan het as onverstandige persone.

Die laaste gedeelte van die boek word afgestaan aan ’n “wilde woordeboek”. ’n Paar van die woorde wat in dié woordeboek ingesluit is het al algemene gebruikstaal geword, terwyl ander minder bekend is en dalk nooit hul plek in die Afrikaanse taal gaan vind nie. Van die woorde wat reeds algemeen in Afrikaans gebruik word, is slypskool vir workshop, flaterwater vir tippex of suurstofdief vir good-for-nothing. Blaasbesem vir leaf blower, pikrit vir lift en loaferskap vir unemployed is van die woorde wat dalk nog nie behoorlik in Afrikaans posgevat het nie en dalk nooit algemeen gebruik gaan word nie. Dan is daar woorde wat ’n mens sal laat bloos of skaterlag soos amperbroekie vir g-string of moljol vir blind date wat ingesluit is.

Afrikaans 100, soos wat die veldtog vir die herdenkingsjaar wat in Mei 2024 afgeskop het bekendstaan, word aangevoer deur ’n groep Afrikaanse organisasies onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM). Benewens dié organisasies is nagenoeg 150 ander organisasies, insluitend AfriForum, reeds geregistreer as vennote van Afrikaans 100. Besoek afrikaans100.org om meer oor die feesvieringe uit te vind.

Soortgelyke plasings