| |

Helfte van vullisterreine in Wes-Kaap voldoen aan standaarde

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Twaalf van die 25 vullisterreine wat in die Wes-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Volgens wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die 13 vullisterreine in die Wes-Kaap wat nie op standaard is nie in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n gebrek aan die wil om aan die standaarde te voldoen, deur die munisipaliteite. Weens wanbestuur is daar ’n gebrek aan fondse om aan vullisterreine te bestee. Dis ’n absolute skande dat ons natuur so besoedel word.”

Crous sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. ‘n Groot deel van die probleem is dat onbevoegde mense aangestel word en dat die nodige kundigheid om die vullisterreine doeltreffend te bestuur dan ontbreek.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.