Grootoog-buurtwag trek verdagte vas wat huis tydens kerkdiens teiken
AfriForum se Grootoog-buurtwag in Keimoes het die afgelope naweek groot sukses behaal toe die buurtwag se inligtingspanleier ’n verdagte aangekeer het wat glo by ’n huis in die gebied ingebreek en verskeie items gebuit het. Die eienaar van die huis was by die kerk ten tyde van die inbraak.
Die AfriForum-tak is Sondagmiddag in kennis gestel dat daar ’n inbraak vroeër die dag, om 10:00, in Malanshoekweg plaasgevind het. Die kwaaddoener het toegang tot die huis verkry deur ’n venster uit te breek. Die inbreker het daarin geslaag om ’n nuwe skootrekenaar te buit, asook twee knippers, vleismesse en nog vele ander items.
Die eienaar van die huis het later die dag ’n saak by die Keimoes-polisiestasie aanhangig gemaak. Die AfriForum-buurtwag se inligtingspanleier het ook later die toneel besoek vir meer inligting. Die buurtwag se patrollie het om 20:00 weer by die toneel ’n draai gemaak, net om uit te vind dat die polisie nog nie eens die toneel besoek het om verdere inligting oor die misdaad in te win nie.
AfriForum se Grootoog-buurtwag het dadelik die polisiekaptein geskakel, waarna ’n beampte ontbied is om die toneel te fynkam. Die AfriForum-buurtwag het egter voortgegaan om self vir die verdagte te soek en skaars ’n uur later hulp ontbied nadat hulle ’n verdagte met die gesteelde items betrap het. Die inwoner het bevestig dat dit wel sy eiendom is wat in die verdagte se besit gevind is. Die polisie het kort daarna die persoon in hegtenis geneem en hy het vandag in die hof verskyn.
Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, sê danksy die paraatheid van AfriForum se Grootoog-buurtwag en sy lede se flink optrede is nóg ’n vermeende misdadiger van die strate af. “Ons is trots op elke buurtwaglid wat getrou patrollies ry en ywerig hul nagte prysgee om ’n onbaatsugtige diens aan die gemeenskap te lewer,” sê Strauss.
AfriForum se buurtwagte is daartoe verbind om vry, veilige en voorspoedige gemeenskappe te verseker. Raak dus vandag nog betrokke by AfriForum om ’n verskil in jou dorp of omgewing te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.