| |

Grootoog-buurtwag trek een na die ander verdagte in Keimoes vas

AfriForum se Grootoog-buurtwag het die afgelope naweek talle verdagte persone in Keimoes vasgetrek tydens die burgerregteorganisasie se nasionale patrollie. Altesaam 22 lede van AfriForum het op 18 Oktober opgeruk om hierdie Noord-Kaapse dorp teen boosdoeners te beskerm. Selfs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike verkeerspolisie en nege gemeenskapslede wat nog nie by AfriForum betrokke is nie, het ingespring en patrollies gery.

AfriForum het die voortou geneem met die patrollie en tussen Vrydag 18:00 en 06:00 Saterdag die gemeenskap gewys hoe hulle snags patrollies aanpak. Die buurtwag het altesaam 650 km in een aand afgelê met dié patrollie. Tydens die patrollie het die buurtwag op ’n vermeende luserndief afgekom en hom ondervra oor die lusern wat in sy besit gevind is. Gedurende die ondervraging het die buurtwaglede daarop gelet dat die persoon versteekte wapens in sy besit het en daarop beslag gelê. Die SAPD is dadelik ontbied en die verdagte en sy wapens is aan die beamptes oorhandig vir verdere ondersoek.

Om 20:26 het daar ’n brand in ’n veld naby Uitbreiding 6 ontstaan. Buurtwaglede het dadelik ondersoek ingestel en daarin geslaag om die brand te blus nog voordat brandbestryders die toneel kon bereik. Die veld is beveilig en die buurtwaglede het voortgegaan met hul patrollie.

Die buurtwag het ook ’n man aan die polisie oorhandig wat glo onder die invloed van alkohol ’n ongeluk gemaak het. Die buurtwag het op ’n man afgekom wat op ’n vierwielmotorfiets die  pad verlaat en ’n lamppaal getref het. By verdere ondersoek het dit voorgekom asof die man onder die invloed was en beserings opgedoen het. Die patrollielede het die man aan nooddienste en die polisie oorhandig.

Kort voor die einde van die patrollie het die buurtwag ook ’n man en vrou teëgekom. Die man het glo die vrou aangerand. Die beskuldigde het egter op die vlug geslaan en inhegtenisneming ontduik. Die vrou is versorg en aangeraai om ’n saak by die polisie aanhangig te maak.

“Patrollies is histories baie effektief om oor die langtermyn die misdaadsyfers in die gebied te verlaag,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari. “Meer van hierdie patrollies word vir die toekoms beplan. Spesiale klem gaan daarop gelê word om meer gemeenskapsorganisasies en veiligheidsrolspelers hierby te betrek. Misdaad raak almal in ’n gemeenskap, maar saam kan Keimoes in ’n veiliger dorp omskep word.”

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Grootoog-buurtwag betrokke te raak en ’n daadwerklik verskil in Keimoes teweeg te bring.

Soortgelyke plasings