|

Groot-Oog-buurtwag trek vermeende luserndief vas

Danksy AfriForum se Groot-Oog-buurtwag is ’n vermeende luserndief onlangs in Keimoes vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Dié sukses het toegesien dat ’n plaaslike boer nie verdere skade ly nadat hy reeds duisende rand aan diewe moes afstaan nie.

Dié buurtwag het Donderdag patrollies in Keimoes gery toe ’n lid om 22:29 ’n verdagte persoon in die gebied opgemerk het. Die persoon het met ’n sak rondgeloop, asook ’n kombers waarin iets toegedraai was. Die buurtwaglid het ander AfriForum-patrollies ontbied en die persoon voorgekeer en ondervra. Met verdere ondersoek het die Groot-Oog-buurtwag bevind dat die verdagte met vars gesnyde lusern rondloop. Sommige van die lusern is nie eens gesny nie, maar met wortel en al uit die grond getrek.

“Die buurtwaglede het op veiligheidsgroepe navrae gedoen oor die lusern, waarna dit aan die lig gekom het dat die lusern van ’n plaas in die gebied afkomstig is en glo onregmatig bekom is,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Die betrokke boer het bevestig dat sy landerye gereeld onder diefstal deurloop en dat hy vir niemand toestemming gegee het om sy land te betree nie.

Die buurtwag het dadelik die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontbied en die verdagte aan die wetstoepassers oorhandig. Die polisie ondersoek die saak verder.

AfriForum se Groot-Oog-buurtwag word gereeld gekonfronteer met voorvalle waar landerye onregmatige betree en geplunder word. Dié boere verloor duisende rand as gevolg van die skade wat aangerig en die verliese wat gely word. Druiwe, rosyntjies, mielies, lusern en jong bome word veral geteiken.

“Die buurtwag wil die betrokke polisielede bedank vir hul spoedige optrede teen die verdagte. Dit is slegs deur samewerking met die polisie wat landelike gebiede werklik beveilig kan word,” sluit Strauss af.

Besoek www.wordlid.co.za om by dié buurtwag betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in die gebied te maak.

Soortgelyke plasings