|

Groot aanslag op Afrikaanse skole wag in 2017

Alet Rademeyer

Die skooljaar het nog nie behoorlik afgeskop nie en dit lyk of ouers en leerlinge in veral Gauteng hul maar vir ’n jaar vol hoofbrekens kan voorberei.

Die gebrek aan deeglike beplanning deur Panyaza Lesufi, omstrede LUR vir onderwys in die provinsie, en die oënskynlik onbevoegde amptenare in sy departement, het tot gevolg dat daar in die eerste week van die nuwe skooljaar vir bykans 60 000 leerlinge nie plek in skole is nie.

Die groei van die skoolstelsel in Gauteng weens onder meer verstedeliking en migrasie van leerlinge uit ander provinsies soos Limpopo, Mpumalanga en Noordwes is die afgelope paar jaar ’n kopseer wat nou in ’n geweldige krisis ontaard het.

Statistieke in die provinsie spreek boekdele en dit gaan enige mens se gesonde verstand te bowe waarom die regering nie vroeër ingegryp en meer skole begin bou het nie.

In 2015 was daar 1 998 640 miljoen leerlinge in openbare skole in Gauteng. In 2016 het dit toegeneem tot 2 045 558. Dit kom neer op ’n toename van bykans 50 000. Wat dié situasie nog meer skokkend maak, is dat daar in die ooreenstemmende tyd net drie nuwe skole in die provinsie gebou is.

Onderwyskenners en demograwe waarsku reeds jare dat Gauteng die spreekwoordelike tydbom geword het omdat die provinsie deur mense oorstroom word wat na werksgeleenthede en ’n beter toekoms soek. Dit is algemeen bekend dat die metropole sukkel om dienste aan die groeiende getal inwoners te lewer. Daarbenewens het dit bykans onmoontlik geword om die groeiende getal leerlinge in die provinsie in skole te plaas. Daar is na raming net 8,8% van die land se openbare skole in Gauteng wat 16,6% van die totale leerlingtal van 12,3 miljoen moet akkommodeer.

Terwyl die chaos om leerlinge in skole te plaas aan verskeie faktore soos migrasie en verstedeliking toegeskryf kan word, kan Lesufi se omstrede plan om alle leerlinge aanlyn in te skryf nie buite rekening gelaat word nie. Dié stelsel was uit die staanspoor gedoem en het ’n legio probleme tot gevolg gehad. Een van die faktore wat dié stelsel byvoorbeeld nié in ag geneem het nie, is dat alle ouers en leerlinge nie noodwendig toegang tot die nodige tegnologie gehad het om aansoeke in te dien nie. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel van die sowat 60 000 leerlinge wat nog nie geplaas is nie, nie toegang tot die aanlyndiens gehad het nie.

Hierdie negatiewe scenario in die breë hou veral ernstige gevolge vir Afrikaanse, en in die besonder enkelmedium Afrikaanse skole, in.

Lesufi het die afgelope paar jaar geen geheim daarvan gemaak dat presterende Afrikaanse skole met ’n eie kultuur, etos en verantwoordbare bestuurspraktyke vir hom ’n steen des aanstoots is nie. Lesufi spreek homself gereeld uit oor die behoefte wat hy het dat dié skole moet transformeer ten einde die samestelling van die land se demografie te weerspieël.

Afrikaanse ouers en onderwysers kan hulle maar vir ’n baie moeilike jaar voorberei. Groot wysheid en geduld sal aan die dag gelê moet word om te verseker dat Afrikaanse skole in staat bly én gehou word om gehalte-onderrig te lewer. In die opsig sal ouers, leerlinge, beheerliggame en personeel van skole hande moet vat om te verseker dat in die beste belang van suksesvolle skole opgetree word en dat nie aan die nukke en grille van onderwysamptenare toegegee word nie.

Soortgelyke plasings