|

Grondbestuurstelsel by Barolong Boo Seleka in werking gestel in samewerking met AfriForum

AfriForum en Kgosi Gaboilelwe Moroka van die Barolong Boo Seleka-tradisionele gemeenskap van Thaba ’Nchu het ’n aanlyngrondbestuurstelsel vir die bestuur van die grond van dié tradisionele gemeenskap in werking gestel. Dié aankondiging is gemaak tydens ’n regstreekse gesprek by AfriForum op 3 November 2022. Die grondbestuurstelsel is ontwikkel deur Joulco Square in samewerking met AfriForum.

Die grondbestuurstelsel behels onder meer die volgende:

  • Al die eiendomme van die gemeenskap is sigbaar op ’n aanlynkaart.
  • Elke individuele eiendom kan afsonderlik bestuur word.
  • Eiendomme kan onderverdeel word en gedeeltes kan aan persone of regspersone toegeken word.
  • Die kontrak van elke eiendom of gedeelte word op die stelsel geberg.
  • Die beskikbaarheid van individuele eiendomme of gedeeltes van eiendomme kan maklik vasgestel word.
  • Die stelsel dien as beplanningshulpmiddel omdat dit moontlik is om spesifieke gedeeltes te reserveer vir spesifieke ontwikkelings soos residensieel, landbou ens.
  • Die stelsel gee ’n waarskuwing wanneer ’n bestaande kontrak of benuttingsreg verstryk.
  • Die stelsel is so ontwerp dat grondbestuur gedesentraliseer kan word indien wenslik.

“Ons fokus op water, energie, gemeenskapsveiligheid en landbou as vier pilare vir die ontwikkeling van Thaba ’Nchu. Ontwikkeling en suksesvolle landbouprojekte is nie moontlik sonder sekerheid oor grond en die goeie bestuur daarvan nie. Dié stelsel sal dit vir ons moontlik maak om ons grond te bestuur en ook goeie beplanning moontlik maak. Dit gaan tyd en harde werk verg om die stelsel te implementeer, maar dit gaan ’n sneller vir ontwikkeling wees. Beide die regte van individue en die gemeenskap moet gedien word, en die stelsel gaan dit vir ons moontlik maak. Dit is vir ons ’n voorreg om vir ander tradisionele gemeenskappe ’n voorbeeld van selfbestuur te wees.,” sê Kgosi Gabo Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka-tradisionele gemeenskap.

“Ons is baie opgewonde oor dié loodsprojek en is oortuig daarvan dat baie gemeenskappe voordeel sal trek daaruit indien hulle dit ook in werking stel. Die stelsel is ontwikkel sodat dit gebruik kan word vir die bestuur van ’n paar plase of ’n groot gebied wat uit verskeie eiendomme of gebiede bestaan. Daarom sal die benutting daarvan tot voordeel strek van kleiner grondeienaars soos gemeenskapseiendomsverenigings, kommersiële boere of groot grondeienaars soos die Ingonyama Trust of selfs die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike ontwikkeling. Daar is baie wat kla en selfs hof toe gaan as gevolg van uitdagings met die bestuur van grond wat deur gemeenskappe besit, benut en bestuur moet word, niemand het egter met ’n oplossing vorendag gekom nie. AfriForum en Joulco Square bied nou dié oplossing wat bestuur van gemeenskapsgrond gaan vergemaklik,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Die loodsprojek by Thaba ’Nchu sluit ook die verfyning van die stelsel in wat naatlose inwerkingstelling vir ander gemeenskappe en instellings moontlik sal maak. Die stelsel kan pasgemaak word vir gemeenskappe en instellings wat belangstel om dit te benut.

Soortgelyke plasings