|

GOP: Paaie, rioolstelsel en vullisterrein kort aandag in Bothaville

Die AfriForum-tak in Bothaville het kommentaar op die Nala Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Daar is onder meer aanbevelings gemaak oor waarvoor die munisipaliteit moet begroot. Na verneem word is dié munisipaliteit al gemaan om eiendomsbelasting in te vorder en aan te wend waarvoor dit bedoel is. Vrugtelose en verkwiste uitgawes moet tot die minimum beperk word.

Die munisipaliteit moet vir die volgende tekortkominge in Bothaville begroot:

  • Die paaie is vol slaggate, veral in die industriële gebied; die paaie en stormwaterstelsels moet ook skoongemaak word.
  • Riool vloei in die rivier in as gevolg van die rioolstelsel wat te klein is vir die groeiende bevolking, veral in Kgotsong. Baie van die riool kom dus nie by die rioolwerke uit nie.
  • Omdat die vullisterrein nie op standaard is nie vind daar baie onwettige vullisstorting plaas – die vullisterrein moet dus opgeknap word.
  • Die stadsaal, wat in ’n haglike toestand is, moet herstel en behoorlik bestuur word om ’n inkomste te genereer. Die ander opsie is dat dit aan ’n privaat persoon verkoop word wat dit kan bestuur.
  • Die munisipaliteit se voertuie wat dienslewering moet verrig, is in ’n haglike toestand – dit moet herstel en onderhou word.

Daar word aanbeveel dat die munisipaliteit hierdie aanbevelings in die begroting moet vervat  sodat daar fondse beskikbaar kan wees om aan hierdie sake aandag te gee.

“Ons hoop werklik dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan die tak se aanbevelings vir die begroting, daarvoor sal begroot en die fondse sal gebruik vir die kwessies waarvoor dit begroot is. Ons verstaan dat die verval nie in een jaar reggeruk sal kan word nie, maar daar moet daarmee begin word anders sal daar nooit vordering wees nie. AfriForum sal kyk wat in die begroting aangebring word en die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings