Gesteelde vragmotorsleepwaens opgespoor
Die AfriForum911-reaksie-eenheid in Bloemfontein het op 15 November in samewerking met verskeie rolspelers gesteelde vragmotorsleepwaens opgespoor en daarop beslag gelê. Dié sukses volg nadat ITR Security omstreeks 15:53 inligting via ’n WhatsApp-groep ontvang het oor gesteelde vragmotorsleepwaens wat vroeër vanjaar tydens ’n kaping verdwyn het. ITR-sekuriteit het onmiddellik kontak gemaak met die AfriForum911-reaksie-eenheid se offisier vir hulp en alle beskikbare inligting deurgestuur. Die AfriForum911-reaksie-eenheid en ITR-sekuriteit het op hul beurt verneem dat die vragmotor met die gesteelde sleepwaens net buite Edenburg, in die rigting van Bloemfontein, opgemerk is.
Die span het by Tierpoort posisie ingeneem en gereedgemaak om te reageer. Kort daarna het die AfriForum911-reaksie-eenheid Sierra 1 en ITR-sekuriteit ITR2 die vragmotor agternagesit. Intussen is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die provinsiale verkeersdepartement ontbied.
Die span het die vragmotor omstreeks 17:36, sowat 50 km buite Bloemfontein, voorgekeer. Die eienaar van die sleepwaens was op die toneel en het die sleepwaens positief geïdentifiseer as sy gesteelde eiendom. Die vragmotor met die gesteelde sleepwaens is gekonfiskeer en by die Bainsvlei-polisiekantoor ingeboek.
“Hierdie sukses kan toegeskryf word aan die samewerking tussen die AfriForum911-reaksie-eenheid, ITR-sekuriteit, die SAPD en die provinsiale verkeersdepartement. Hierdie aksie dien as ’n bewys van die doeltreffendheid van gesamentlike operasies in die bekamping van misdaad,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
Die SAPD ondersoek die saak verder.
Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan en veg saam teen misdaad: Besoek www.wordlid.co.za.