|

Gesamentlike inisiatief bevorder die kulturele identiteit van die AmaBhele KaJamangile

AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het saamgewerk om die kulturele identiteit van die AmaBhele KaJamangile tradisionele gemeenskap te bevorder deur verwelkomings- en rigtingwyserborde in dié gemeenskap se gebied tussen Tsolo en Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap op te rig. Verwelkomingsborde met die isiXhosa-woorde Isizwe SamaBhele KaJamangile siyakwamkela wat beteken “die AmaBhele KaJamangile volk verwelkom jou” is na aan die grense van die koninkryk opgerig terwyl rigtingwyserborde wat die pad na die koninklike woning van iNkosi Zwelothando, as die setel van die kultuurgemeenskap se koninklike familie – die leidende familie van die gemeenskap – aandui, ook opgerig is.

“Die bewaring en versterking van die unieke kulturele identiteit en erfenis van die AmaBhele KaJamangile as kultuurgemeenskap is vir ons as die Jamangile KaMabandla koninklike familie baie belangrik. ’n Kultuurgemeenskap wat weet waar hul vandaan kom en wat trots is op hul herkoms en wie hulle is, kan op dié fondament vasstaan, vorentoe kyk en werk om ’n mooi toekoms vir die opkomende geslagte te verseker. Ons is trots daarop dat daar nou borde in ons moedertaal is wat lede van ons gemeenskap en reisigers in ons koninkryk verwelkom en ook aandui waar die setel van die koninklike familie, as die leidende familie van die gemeenskap, is,” sê iNkosi Zwelothando Mabandla van die AmaBhele KaJamangile Tradisionele Gemeenskap.

“AfriForum werk om te verseker dat Afrikaners as kultuurgemeenskap in vreedsame naasbestaan met ander kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika voluit kan lewe. Vreedsame naasbestaan is moontlik wanneer kultuurgemeenskappe in wedersydse erkenning en respek teenoor mekaar optree. ’n Gesonde kulturele selfbeeld en respek vir die eie lê die grondslag om ook ander gemeenskappe te kan respekteer. Dit is daarom vir ons ’n voorreg om saam met iNkosi Zwelothando projekte soos hierdie, wat kulturele identiteit bevorder, aan te pak,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Dié projek vloei voort uit die wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms wat AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando in Maart 2022 onderteken het, wat onder andere ten doel het om saam te werk om kulturele identiteit en erfenis te bewaar en te beskerm.

Soortgelyke plasings