Germiston-tak help metro om onwettige grondbesetters agter hospitaal te verwyder
Die AfriForum-buurtwag in Germiston het onlangs kragte saamgesnoer met die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) en private veiligheidsmaatskappye om onwettige grondbesetters agter die Netcare Medicross-hospitaal in Germiston te verwyder. Hierdie ingryping volg ná verskeie pogings deur die gemeenskap om die onwettige besetters, wat bygedra het tot die hoë vlakke van misdaad en waterverliese in die gebied, te laat verwyder.
Die situasie is aanvanklik deur ’n inwoner opgemerk en in Augustus aan AfriForum se buurtwag gerapporteer. Die grondbesetters het ’n waterpyp opgegrawe om van die water gebruik te maak. Dit het tot reusewaterverliese gelei en watertoevoer na huishoudings ernstig belemmer. Ten spyte van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se kennisname van die situasie, is geen stappe teen die onwettige besetters gedoen nie. AfriForum het met die munisipaliteit se Departement van Water en Sanitasie in verbinding getree om die lekkasie te herstel. Die buurtwag het toe ook met gereelde patrollies in die gebied begin om misdaad hok te slaan.
Die EMPD het Maandag (4 November) sy eerste poging aangewend om die grondbesetters van die perseel te verwyder. Die metropolisie het ingespring om die strukture af te breek, maar nadat die polisie vertrek het, het sommige van die besetters weer strukture opgerig. Ná verdere koördinasie deur AfriForum, het die EMPD Woensdag (6 November) weer teruggekeer en saam met AfriForum en ander veiligheidsrolspelers die strukture finaal verwyder en die terrein skoongemaak.
Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sê die gemeenskap se ondersteuning in die proses was uiteindelik die sleutel tot die suksesvolle verwydering van die besetters. Lede van die gemeenskap help die AfriForum-buurtwag al vir maande lank om patrollies te ry en terugvoer oor die stand van sake te gee.
“Hierdie samewerking is ’n bewys van die sukses wat moontlik is wanneer gemeenskapslede en ander veiligheidsrolspelers saamwerk. Die gemeenskap het intussen hul dank aan die buurtwag uitgespreek, asook die EMPD-lede, soos die konstabels verbonde aan die EMPD se grondbesettingseenheid en die beamptes van die EMPD se taktiese reaksie-eenheid, wat onverpoos gewerk het om te verseker dat die besetters verwyder word,” sê Ferreira.
AfriForum se buurtwag het intussen verdere maatreëls ingestel om patrolleerders in die gebied waaksaam te hou en soortgelyke insidente in die toekoms vinnig aan te meld.
“Samewerking van die gemeenskap is die sleutel tot sukses om toekomstige misdaad en onwettige grondbesettings te voorkom,” sê Wessel Radyn, buurtwagleier van AfriForum se Germiston-tak. “Ons is dankbaar vir elkeen wat ’n rol gespeel het om ons omgewing skoon en veilig te hou.”
Raak vandag nog by AfriForum se Germiston-tak betrokke en help om ’n verskil in hierdie gemeenskap te maak. Kontak die tak by germiston@afriforumtak.co.za vir meer inligting of besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum aan te sluit.