George-tak raap gesogte AfriForum-toekenning op
Die AfriForum-tak in George het oor die afgelope jaar bewys waarom hy die Suidstreek-Tak van die Jaar -toekenning verdien. Dié tak se verbintenis tot die gemeenskap se veiligheid, asook die jeug se ontwikkeling en opleiding in alle aspekte van veiligheid, het toegesien dat hy die afgelope naweek met hierdie gesogte toekenning vereer is. AfriForum het van 22 tot 25 Augustus sy kongres by die ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo aangebied, waartydens al die burgerregteorganisasie se top-takke vir hul harde werk in hul gemeenskappe vereer is.
Vanweë die doeltreffendheid waarmee die George Munisipaliteit bestuur word, fokus die AfriForum-tak in die gebied nie daarop om slaggate op te vul of lekkasies te herstel nie, maar eerder om die gebied te beveilig en sy inwoners te bemagtig om hulself te verdedig.
Die George-tak spog met twee gespesialiseerde buurtwaglede, oftewel protospanlede, 14 opgeleide buurtwag- en operasionele spanleiers, 12 opgeleide inligtingspanleiers, ’n VOLK Skiet-instrukteur en vier trauma-vrywilligers wat berading aan slagoffers van geweldsmisdade bied. Die tak het boonop vier opgeleide hommeltuigvlieëniers en ’n nuwe M3T-hommeltuig.
Die tak neem gereeld deel aan padblokkades wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander buurtwagte in die area uitgevoer word; bied simulasies van plaasaanvalle saam met die GPF en ander buurtwagte aan; bied lugsteun aan wetstoepassers en oefen gereeld gebeurlikheidsplanne; en bied opleiding aan traumavrywilligers.
“Hierdie toekenning is danksy die uitstekende bestuur wat daartoe verbind is om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing te skep,” sê Èduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak. “Hierdie sukses behoort egter nie net aan ons nie, maar aan al die veiligheidsrolspelers soos die SAPD, GPF en ander buurtwagte wat met ons saamwerk om ’n veilige gemeenskap te kweek. Ons sal voortgaan om ons gemeenskap te dien, en saam ’n verskil te maak.”
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, sê die George-tak is ’n sprekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer burgerlike organisasies en verskeie sfere van die regering kragte saamsnoer. “Die hele AfriForum sien uit vir dit wat hierdie tak nog in die toekoms gaan bereik,” sê Erasmus.
Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum en een van sy talle takke en buurtwagte landwyd betrokke te raak.