|

Gemeenskapsveiligheid in Gauteng dok R9,7 miljoen op vir slegs 124 pistole

Die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid het volgens hul jaarverslag wat vroeër vandeesmaand uitgereik is, ’n tender ten bedrae van R9,7 miljoen toegeken vir die lewering van net 124 pistole. Dié buitensporige besteding kom volgens AfriForum neer op nagenoeg R78 000 per pistool – minstens drie keer die prys van ’n pistool waarmee wetstoepassers oor die algemeen toegerus word.

AfriForum het in reaksie op dié inligting vandag ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die departement gerig om duidelikheid oor dié tender te bekom.

Luidens die 2023/2024-jaarverslag is die tender vir die aankope van dié pistole reeds in die afgelope finansiële jaar toegestaan, maar lewering daarvan sal in die huidige finansiële jaar plaasvind. Die betrokke pistole is geoormerk vir die departement se wetstoepassingsowerhede, wat die provinsie misdaadbestryders, beter bekend as die “amaPanyaza”, insluit. Hierdie eenheid, wat in 2023 deur die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, in die lewe geroep is, is uit die staanspoor in omstredenheid gehul en die bewapening van dié 6 000 misdaadvoorkomingsbeamptes is reeds as hoogs onverantwoordelik bestempel.  

“Die toegekende tender vereis dringend verdere ondersoek en antwoorde. Om meer as R78 000 te betaal per vuurwapen waarvoor verwag kan word om enigiets tussen R15 000 tot R25 000 te betaal, is verregaande, uiters verdag en laat ernstige vrae oor die toekenning ontstaan,” verduidelik Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder.

Lesufi is reeds betrek by verskeie ongerymdhede in die provinsie, insluitend bewerings van onreëlmatige besteding van nagenoeg R43,31 miljard. Daarbenewens is die premier ook onlangs geïdentifiseer as die “kernfiguur” in ’n beweerde toesmeerveldtog van grootskaalse bedrog en geldwassery in onder meer die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

“Lesufi se handelinge noop AfriForum om verslae, soos dié waarin die twyfelagtige vuurwapentender beskryf is, met ’n vergrootglas deur te gaan om seker te maak dat Gautengers nie wéér die onderspit delf weens ongerymdhede in dié provinsiale regering en sy departemente nie. Sodra ons antwoorde op ons aansoek ontvang, sal ons verdere stappe doen in belang van die gemeenskap,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings