|

Gemeenskappe steek hand diep in sak om hul dorpe reg te ruk

Talle dorpe spog vandag met ’n mooier voorkoms danksy die ingryping van AfriForum-takke.

Die gemeenskap van Leeupoort, sowat 80 km buite Thabazimbi, juig oor water nadat ’n waterpomp vervang is en die laaste 26 uur teen 40 kubieke meter per uur pomp. Die gemeenskap sukkel lank reeds met waterprobleme, maar nou sal die reservoir gevul kan word.

In Klerksdorp in Noordwes het die AfriForum-tak die begraafplaas, wat deel is van die ou konsentrasiekamp, begin skoonmaak. Die hele kamp word met onkruiddoder, wat nie skadelik vir inheemse bome en ander plante is nie, behandel. Die gemeenskap het sowat R5 000 vir die projek opgedok.

In die Vrystaat is ook vandag skouer aan die wiel gesit. Die AfriForum-tak in Bothaville het 30 slaggate gevul.  En in Bethlehem het die AfriForum-tak in samewerking met sowat 200 leerlinge van Bethlehem Voortrekker Hoërskool ʼn groot skoonmaak-aksie in die dorp gehou. Hulle het onder meer rommel by die Dihlabeng-winkelsentrum opgetel en ook Loch Athlone se damwal skoongemaak.

In Phalaborwa het die AfriForum-tak die fontein in die sakekern begin skoonmaak. Volgens Jane Williamson, voorsitter van die tak, is dié fontein deel van die dorp, maar dit het die afgelope paar jaar erg vervalle geraak.

In Lichtenburg het die gemeenskap begin om een van die eerste strate op te knap en skoon te maak. Sowat R4 000 is hiervoor bewillig en nog strate gaan binnekort ’n nuwe baadjie kry.

AfriForum se Kimberley-tak het ook nie gister op hul louere gerus nie. Meer as R33 000 is gebruik om vyf van die stad se parke weer mooi en netjies te maak.

Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder in die Noord-Kaap het gesê Kimberley se parke het die afgelope 20 jaar baie agteruitgegaan weens die plaaslike owerheid se  nalatigheid. “Parke behoort ’n veilige plek te wees waar inwoners kan ontspan, daarom het ons ’n kontrakteur vir die werk aangestel.”

In Stella kan inwoners ook nou weer meer gerus ’n rit dorp toe aanpak nadat AfriForum se Vryburg-tak 100 slaggate herstel het. Sowat R40 000 is hiervoor gebruik.

Delmas en Sundra in Mpumalanga is ook deel van AfriForum se projek van 10 Dae van Selfstandigheid. Die tak het die begraafplase hier skoonmaak, terwyl die Christelike Maatskaplike Kantoor in Delmas en die administratiewe kantoor by die Sundra Primêre Skool geverf is. Die onkoste van die projekte beloop sowat R30 000 en is deur die gemeenskap gefinansier.

Die projek loop op 9 Oktober ten einde.