|

Gemeenskap verhoed nóg ’n tragedie in Phalaborwa

AfriForum se Phalaborwa-tak en ander gemeenskapstrukture op die dorp het Sondag (25 Februarie) ’n herhaling van verlede jaar se verwoestende brande verhoed deur op hoë gereedheid te wees vir nog moontlike wegholbrande. Danksy die gemeenskap se paraatheid kon ’n brand by ’n huis in Talbachstraat geblus word voordat dit elders heen versprei het.

Neil Kelder, sekretaris van die Phalaborwa-tak, het kort voor 16:00 ’n oproep van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ontvang dat ’n lapa by ’n huis in ligte laaie is. Die tak se waterkar was gereed en Kelder het dit blitsig na die toneel gehaas. Die tak het saam met die GPF en die Palabora Mining Company die brand help blus. Die spanne het onverpoos gewerk om die brand onder beheer te bring en ná 45 minute is dit eindelik geblus. Dit is onbekend wat tot die brand aanleiding gegee het.

“Deur die vinnige optrede van inwoners en gemeenskapstrukture kon hierdie brand vinnig geblus word voordat daar groot skade in die woonbuurt was,” sê Kelder.

Die inwoners van Phalaborwa het dit onlangs op hulself geneem om brande op die dorp te bestry nadat die Ba-Phalaborwa Munisipaliteit verlede jaar die gemeenskap erg in die steek gelaat het. In September verlede jaar het ’n brand op ’n munisipale terrein buite die dorp ontstaan en sodanig versprei dat 12 huise in puin gelaat is. Die munisipaliteit se swak dienslewering ten opsigte van watervoorsiening en die sny van droë gras dra by tot die hoë  brandgevaar in die omgewing. AfriForum het reeds ’n waterpunt vir noodgevalle opgerig.

“Dit is prysenswaardig dat die gemeenskap nie hul laat onderkry deur die munisipale verval nie, maar eerder saamwerk om die dorp veilig te hou,” sê Kelder.

AfriForum se Phalaborwa-tak moedig inwoners aan om vandag nog betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir nog inligting.

Soortgelyke plasings